Wat doen 'n raadslid

 

 Die pligte van ’n raadslid is die volgende:

 

  1. Om die inwoners van die munisipaliteit te verteenwoordig en met ander raadslede saam te werk in die beste belang van die gemeenskap;

 

  1. Om die behoeftes van die gemeenskap aan die munisipale raad te kommunikeer en die raadprosesse aan die gemeenskap te kommunikeer;

 

  1. Om vir raadsvergaderings en komiteevergaderings voor te berei en dit by te woon;

 

  1. Om die prestasie van die munisipaliteit te moniteer;

 

  1. Om diensleweringsprobleme by die betrokke owerhede aan te meld en terugvoer oor die munisipaliteit se prestasie te gee;

 

  1. Om die gedragskode te volg wat behels dat inligting nie bekendgemaak word aan mense wat onregverdig daaruit voordeel kan trek nie; en

 

  1. Om munisipale amptenare aanspreeklik te hou.

 

 Die rol van Plaaslike Regering volgens die Grondwet

 Artikel 152 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal die volgende rakende Plaaslike Owerhede:

 

  1. (1) Die oogmerke van plaaslike regering is–

(a) om demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien;

(b) om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe verskaf word;

(c) om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder;

(d) om ʼn veilige en gesonde omgewing te bevorder; en

(e) om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.

 

Wat is die verskil tussen ‘n wyksraadslid en ‘n proposionele raadslid?

Daar is twee soorte raadslede: Wyk- en Proporsionele raadslede.

 

Alle plaaslike en metropolitaanse munisipaliteite is in wyke ingedeel. ’n Wyksraadslid verteenwoordig ’n spesifieke wyk op die munisipale raad.  Die kandidaat wat die meeste stemme in die wyk kry met ‘n verkiesing, is die wenner en word dan die wyksraadslid. ’n Wyksraadslid dien as die voorsitter van die betrokke wykskomitee.

 

Proporsionele raadslede verteenwoordig ’n politieke party op die munisipale raad en word deur middel van die stelsel van “proporsionele verteenwoordiging” verkies.  In hierdie stelsel nomineer die politieke party sy kandidate vir die partylys.  Die getal stemme wat ’n party ontvang, bepaal die getal kandidate wat ’n politieke party sal hê.

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!