Zuma en Van Rooyen verloor eerste rondte in hul poging om verslag oor staatskaping te keer

2016-11-01
Dr Pieter Mulder

Die VF Plus verwelkom die hof se beslissings vandag in die saak oor die Openbare Beskermer se uitreiking van die verslag oor staatskaping, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die pogings van president Jacob Zuma en minister Des van Rooyen om die afgetrede Openbare Beskermer (OB) adv. Thuli Madonsela se uitreiking van die verslag oor staatskaping te voorkom, het ʼn ernstige terugslag gekry toe die hof beslis het dat minister Des van Rooyen se versoek in hierdie verband van die rol geskrap is.

Hy sê dit is ook verblydend dat die hof terselfdertyd beslis het dat opposisiepartye en Vytjie Mentor, voormalige ANC-parlementslid, wel tot die saak mag toetree omdat hulle ʼn belang daarby het.

“Dit is reeds etlike maande sedert die eerste bewerings van staatskaping gemaak is. Die regering se deurlopende pogings om die bewerings te omseil versterk die persepsie dat alles waar is. Hierdie sirkus kan net gestop word met ʼn duidelike hofbevinding en die bekendmaking van die Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping.

“Dit is in belang van die ekonomie en van politiek stabiliteit in Suid-Afrika dat daar nou so gou moontlik duidelikheid kom oor al die bewerings wat oor staatskaping en bevoordelings van sekere individue gemaak word. Die VF Plus sal voortgaan om druk uit te oefen waar die party kan in belang van almal in Suid-Afrika,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!