Welverdiend en Deelkraal gereeld sonder krag wanneer diewe toeslaan

2018-12-04
Die Redaksie

Inwoners van Welverdiend en Deelkraal in Merafong, Gauteng, was hierdie naweek vir die tweede keer in 14 dae sonder krag nadat diewe kragpale afgesaag het waarop ‘n transformator gemonteer was.

"Hierdie wetteloosheid wat landwyd op grondvlak ervaar word, is die resultaat van die ANC-regering wat oor dekades geen politieke wil getoon het om misdaad te bekamp nie," sê Ben van der Berg, VF Plus-raadslid: Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville en Wedela).

Die kragpale is Saterdagoggend vroeg afgesaag waarna die transformator weggedra  is. Die vermoede bestaan dat koperdiewe verantwoordelik is. Die elektrisiteitnetwerk is eers Sondagmiddag laat herstel.

Twee weke gelede het dieselfde gebeur en was dié gemeenskap van Welverdiend feitlik 48 uur sonder krag.

"Dit is algemeen bekend dat die polisiediens nie oor die nodige misdaadintelligensie-vermoë beskik om misdaad te bekamp nie. Die VF Plus pleit ook herhaaldelik tydens gemeenskapspolisiëringforum-vergaderings vir groter sigbare polisiëring, maar sonder sukses.

"Die VF Plus kan nie langer toekyk hoe die regering en stadsrade se onvermoë gemeenskappe vernietig nie. Die tyd is hier om saam te staan om die regerende party uit die kussings te lig en ‘n party aan bewind te plaas wat vir mense omgee. Dit is nou of nooit," sê Van den Berg.

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!