"Hoe groter die waterkrisis in Suid-Afrika raak, hoe duideliker blyk die ANC se onvermoë om dié lewensbedreigende krisis te bestuur," sê Fanie d Toit, VF Plus LP in die NRP.
"Die adjunkminister van water en sanitasie, David Mahlobo, het vandeesweek erken die meesterplan vir die aanpak van die waterkrisis in Suid-Afrika, soos vroeër deur die minister, Lindiwe Sisulu, aangekondig is, is onbefonds. Daar is dus geen begroting vir die implementering van die plan nie.
"Minister Sisulu het ook ‘n gulde geleentheid laat verbygaan deur nie die grootste watervermorsers, naamlik munisipaliteite wat nie lekkasies herstel nie, voor stok te kry nie.
"Die minister se onbefondsde meersterplan wat sy Dinsdag aangekondig het, wys opnuut hoe onkundig die ANC oor die waterkrisis in die land is. Nie net bied haar plan weinig nuwe oplossings nie, maar dit is onrealisties met planne, soos om nuwe boorgate te boor, terwyl Suid-Afrika se grondwater reeds onder druk verkeer.
"Die minister versoek Suid-Afrikaners om water spaarsamig te gebruik, maar bied geen plan van aksie vir die miljoene liter water wat deur munisipaliteite vermors word as gevolg van ʼn gebrek aan instandhouding en herstelwerk nie.
"Indien die ANC daadwerklik daartoe verbind was om oplossings vir die droogte te kry, sou haar plan aksiestappe uitgestippel het om munisipaliteite se waterverliese te keer. Die minister se planne van waterbeperkings en besparingstariewe, droogtemaatreëls en die herverbruik van water is belangrik, maar spreek nie die ware oorsaak van Suid-Afrika se waterkrisis aan nie.
"Die VF Plus het reeds in die verband ‘n mosie in die nasionale raad van provinsies (NRP) ingedien wat eis dat die Interministeriële Komitee vir Dienslewering waterverliese deur munisipaliteite ondersoek. Die komitee moet daaroor verslag doen en oplossings aanbied om waterverliese te keer," sê du Toit.