Wapenverliese by weermag wek kommer

2019-04-04
Die Redaksie

"Die diefstal en verlies van wapens en ammunisie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bly kommerwekkend en dit wil voorkom of die weermag nie die vermoë het om voorkomend op te tree teen misdaad en ongedissiplineerdheid in sy eie geledere nie," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

In die tydperk vanaf 1 April 2016 tot op hede is 58 wapens, wat meer as dertig gevaarlike wapens soos aanvalsgewere insluit, gesteel en verloor. Daarby is byna 8000 rondes ammunisie gesteel, hoofsaaklik vir aanvalsgewere, asook 36 handgranate.

Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van verdediging en militêre veterane (Nosiviwe Mapisa-Nqakula) op geskrewe parlementêre vrae van die VF Plus oor die aangeleentheid.

Groenewald sê die weermag moet met erns aandag gee aan dissipline en gewone misdaad binne sy geledere aangesien hy toenemend besig is om die publiek se vertroue in hom te verloor.

"Dit is skokkend om te dink hoeveel skade en bloedvergieting die gesteelde en verlore wapens kan veroorsaak en hoeveel daarvan in die hande van misdadigers kan beland wat by georganiseerde misdaad soos transitorooftogte betrokke is.

"Die SANW kan nie toenemend gesien word as ʼn voedingsbron van wapens en ammunisie vir misdadigers nie. Die swak dissipline en die swak bestuur in die weermag is tans van so ʼn aard dat dit bydra tot die misdaad in die land en dit is ʼn klad op die naam van die SANW.

"Dit moet dringend reggestel word. ʼn Weermag kan nie funksioneer sonder behoorlike bestuur en dissipline nie," sê Groenewald.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!