Vuurwapen-amnestie misleidend en ‘n klug

2019-11-28
Dr Pieter Groenewald

"Die afkondiging van amnestie vir onwettige vuurwapens om straffeloos ingedien te kan word vanaf 1 Desember vanjaar tot einde Mei aanstaande jaar, soos deur die minister van polisie, Bheki Cele, in die Staatskoerant gepubliseer is, is misleidend en ʼn klug," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die bedoeling van amnestie is om onwettige vuurwapens in besit van misdadigers minder te maak om sodoende misdaad te bekamp.

"Die werklikheid is egter dat misdadigers nie hul vuurwapens sal inhandig nie aangesien die wet bepaal dat alle vuurwapens wat ingedien word, ballisties getoets moet word en indien die vuurwapen in ʼn misdaad gebruik was, sal vervolging ingestel word.

"Die gevolg is dat net wetsgehoorsame vuurwapen-eienaars wie se vuurwapens om een of ander tegniese rede onwettig geraak het ingevolge die wet, dit sal indien.

"In twee vorige amnestie-tydperke in 2005 en 2010 is geen enkele vuurwapen ingedien wat in ʼn misdryf gebruik is nie. Dit dien as bewys dat misdadigers nie hul vuurwapens sal indien en hulself sodoende sal inkrimineer nie.

 

"Die tersaaklike kennisgewing in die Staatskoerant is uiters gebrekkig en misleidend. In die eerste plek is daar ʼn bepaling wat lui dat ʼn persoon ʼn vuurwapen kan indien en dan terselfdertyd aansoek kan doen om die herlisensiëring van die vuurwapen."

 

"Die voorwaarde is egter dat só ʼn persoon moet kan aantoon dat hy wel die wettige eienaar was van die vuurwapen. Dit beteken die doel van die amnestie is eintlik om vuurwapen-eienaars te teiken wie se lisensie verval het waar nie betyds aansoek gedoen is om hernuwing nie.

"Die minister het die kennisgewing op 28 Augustus vanjaar geteken nog voordat die polisie se parlementêre portefeuljekomitee dit goedgekeur het. Dit is dus ʼn verouderde kennisgewing en na die VF Plus se mening eintlik onwettig.

 

"Vuurwapen-eienaars wie se lisensies verval het, moet hulle nie laat mislei deur die amnestie-kennisgewing nie aangesien hulle nie bloot aansoek kan doen om die hernuwing van hul lisensie nie, maar deur die volle proses sal moet gaan soos om ‘n nuwe vuurwapen te bekom."

 

"Daar is ook die hofuitspraak van Gosa (Gun Owners of South Africa) wat steeds geld en wat bepaal dat ʼn vuurwapen wettig behou kan word selfs al het die lisensie veral. Die situasie bly ingevolge die hofuitspraak van krag totdat die polisie die uitspraak op hersiening neem.

"Om hierdie redes sê die VF Plus die kennisgewing en nuwe amnestie-periode is misleidend en ʼn klug," sê Groenewald.

 

DrPieterGroenewaldVuurwapenAmnestieVuurwapenEienaars

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!