Vryheidsdag sonder vryheid kan die ware betekenis van die begrip tuisbring

2020-04-27
Die Redaksie

"Dit is ironies om vandag Vryheidsdag sonder baie vryhede te gedenk. Dit kan egter daartoe bydra om die ware betekenis van die begrip onder die mense van Suid-Afrika tuis te bring, in besonder hoe belangrik vryheid werklik is," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die breë beleid van die regering soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) en onteiening sonder vergoeding, ontneem baie mense in die land van hul ware vryheid.

 

"Dit is uiters teleurstellend en onaanvaarbaar dat die ANC-regering midde in ʼn internasionale krisis, wat geen onderskeid tussen kleur tref nie, steeds SEB deel van die ekonomiese reddingspoging en die toekenning van hulppakette maak."

 

 

"Wat die heersende omstandighede rondom die Covid-19-inperkingsregulasies aanbetref, doen die VF Plus ‘n beroep op die regering om die ekonomie teen ʼn vinniger pas te ontsluit sodat die publiek, met die inwerkingstelling van gepaste gesondheidsmaatreëls, by die werkplek kan kom om weer ʼn inkomste te verdien.

"Die regering se hoof gesondheidsraadgewer, prof. Salim Karim, sê self die voordele wat die inperking ingehou het, is reeds benut. Die VF Plus besef deeglik daar kan nie oorhaastig opgetree word met die opheffing van inperkingsmaatreëls nie, maar daar moet ook gewaak word teen oorversigtigheid.

"Aan die positiewe kant is daar wel ʼn voordeel van die globale inperkingsproses en dit is dat Moeder Natuur wêreldwyd ʼn welkome blaaskans kry om te herstel van die mens se invloed daarop.

 

"Dit is in daarom in hierdie tyd goed om te besin oor hoe belangrik die natuur vir die mens is en plaaslik behoort die regering alle natuurbewaringsektore toe te laat om hul werk voort te sit as deel van die noodsaaklike dienste in die land."

 

"Die tyd sal aanbreek dat Suid-Afrika vry sal wees van die inperkings wat die korona-virus op hul vryhede plaas. Die VF Plus sal dan aanhou om hom te beywer om die ANC-juk wat minderhede hul vryheid ontneem, af te werp," sê Groenewald.

DrPieterGroenewaldSEBRegstellendeAksie#Covid19SAVryheidsdag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!