Vrouemaand: Tyd het aangebreek vir vroue om lot in eie hande te neem

2022-08-31
Tammy Breedt

Nog 'n Vrouemaand het gekom en gegaan. Nog 'n jaar het verloop sedert die parlement en pres. Cyril Ramaphosa beloftes gemaak het om geslagsgebaseerde geweld en vroue se sosio-ekonomiese regte en bemagtiging aan te spreek.

Gister het die president aangekondig dat ʼn tweede geslagsgebaseerde geweldberaad ʼn terugvoersessie sal wees oor wat gewerk het en wat nié aangaande die regering se ingrypings om dié soort geweld te bekamp en uit te roei.

Vandag bied die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, 'n dialoog oor geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in Gugulethu aan.

Geslagsgeweld en vrouemoord vier hoogty in Gugulethu en die res van die land, maar die regering voer dialoog – net nog ʼn gepratery.

Die datums 1843, 1915, 1940, 1956 het een ding in gemeen: Vrouens was moeg en keelvol en het onder meer na die Uniegebou opgeruk om hul misnoeë oor hul lot te kenne te gee.

Hulle was moeg om diskriminasie teenoor ander te sien seëvier. Maar hulle was ook moeg daarvoor om self teen gediskrimineer te word.

Duisende vroue het sonder die internet en alles wat vandag tot ons beskikking is, dit reggekry om hulself te verenig.

Dit is veel makliker vandag om te kommunikeer en te organiseer en die beskikbare hulpbronne te benut.

In stede daarvan baklei vroue onder mekaar. Hulle staan bakhand vir ʼn aalmoes en hoop op opheffing en bemagtiging van elders.

Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrikaanse vrouens besef hul heil hang van hulself af.

Hul bemagtiging en toekoms lê nie by die regering of by ʼn regeringsprojek of by iemand anders nie.

Die tyd het aangebreek dat vroue vir hulself opstaan, saamstaan en sterk staan teen die onderdrukking en diskriminasie wat hulle daagliks ervaar.

Vroue-entrepreneurs soos die Khumalo-susters van Warrenton in die Noord-Kaap, wat met spaargeld ʼn pluimvee-onderneming begin het en van krag tot krag gaan, moet as voorbeeld dien vir ander vroue om hul lot in eie hande te neem.

Vroue moet aangemoedig word om hulself te bemagtig, want dit is die enigste ware manier wat hulle ooit selfversorgend sal raak en hul volle potensiaal sal bereik.

Vroue is van nature veerkragtig. Hulle moet net begin glo in hulself.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!