Voortslepende ramp in landbou: Privaat gedrewe grondfonds om Landbank se funksie oor te neem?

2022-08-25
Dr. Wynand Boshoff

Die kwesbaarheid van landbou in die wisselvallige Suid-Afrikaanse klimaat is so lank bekend as wat die landstreek bewoon word. Daarom was die stigting van 'n staatsbank om hierdie wisselvalligheid te help bestuur, een van die eerste aksies van die nuwe Unie van Suid-Afrika in 1912.

Tans lyk dit of die Landbank nie meer aan die oorspronklike doel voldoen nie en dat die burgerlike samelewing moet oorweeg om iets soortgelyk te onderneem.

Die Landbank se sakemodel is om lenings teen tegemoetkomende rentekoerse aan landbou-ondernemings te verskaf.

Tydens die hoogtepunt van die koöperasiewese het hierdie voetsoolvlak-ondernemings dikwels die landbank se lenings op 'n agentskapbasis bestuur. Dit het daarop neergekom dat potensiële lenings deur kundiges beoordeel is wat ook die plaaslike landbou-omgewing en die meriete van aansoekers self kon beoordeel.

Oor die jare het die Landbank veel gedoen om boere op plase te hou en die plattelandse ekonomie te stabiliseer. Hoewel wins nie die primêre doel was nie, moes die Landbank kommersieel suksesvol wees om voort te bestaan.

Nadat grondhervorming tot die Landbank se mandaat toegevoeg is, het minder klem op die moontlikheid van suksesvolle herwinning van die leningsbedrag geval.

Oor die afgelope maande het die Landbank toenemend omstrede geraak, weens die drastiese wyse waarop lenings opgeroep is.

Dit is in die eerste gunstige landbouseisoen, ná verskeie jare van ongunstige landbouomstandighede regoor die land. Dit beteken dat talle boere met hul Landbanklenings agtergeraak het, alhoewel die waarde van hul plase die lenings oortref.

Die omstredenheid is nie in die feit geleë dat lenings ingevorder word nie, maar in die aggressiewe wyse waarop dit gedoen word.

Eers is die agentskapsbevoegdheid van ondernemings met plaaslike kennis herroep, sodat invordering in die Landbank self gesentraliseer is. Berigte op sosiale - sowel as hoofstroommedia – berig toenemend van intimiderende en roekelose optrede van die Landbank en sy invorderaars.

Meer as een klag is teen die Landbank se optrede ingedien, maar dit is steeds in die regsproses. Terwyl die optrede moontlik as wettig regverdigbaar bevind mag word, lyk dit of die Landbank sy doel om boerderye te red, al swakker bereik.

Dit kan vir die burgerlike samelewing noodsaaklik raak om ook hierdie staatsfunksie te vervul.

Kapitaal wat met hierdie doel ingesamel word, kan gebruik word om Landbanklenings af te los. Indien die waarde van die grond groter as die lening is, kan dit as die boer se kapitaalbydrae gereken word. Plase kan dan aan dieselfde boer, of aan 'n ander, verhuur word met die opsie om te koop.

In 'n land soos Israel behoort sowat 13% van die grond aan die Nasionale Joodse Fonds. Hierdie fonds is juis tot stand gebring om grond te koop en vir vestiging beskikbaar te stel.

Dit was 'n belangrike meganisme om immigrante met die nodige kennis en ervaring, maar sonder kapitaal, in staat te stel om ondernemings in die landbou te vestig.

'n Onderneming van hierdie aard kan die ekonomiese uitsluiting van 'n groot deel van die bevolking help voorkom.

Vanselfsprekend sal dit goed beplan en befonds moet wees om lewensvatbaar te wees. Dit kan die onderwerp van 'n ekonomiese spitsberaad van burgerlike instellings wees.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!