VF Plus waarsku al sedert 2019 in parlement oor staat se geboue

2022-08-29
Philip van Staden

Die VF Plus waarsku al sedert 2019 in die parlement oor die staat se geboue wat leeg staan en die swak bestuur daarvan wat die land se belastingbetalers jaarliks miljoene rande, indien nie miljarde rande nie, uit die sak jaag.

Die parlementsgeboue self is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Vandag is bekend gemaak dat dit na raming sowat R3 miljard gaan kos om te herstel na die brand aan die begin van die jaar.

Die brand kon nie in bedwang gebring word nie en daar is hieroor bevind dat die parlement nie aan vereiste brandregulasies voldoen het nie.

In 2020 is al bevind dat die parlement se brandbestryding- en ventilasiestelsel nie na behore hersien word nie.

In 2019 het die VF Plus gewaarsku dat 703 van die staat se 81 575 geboue leeg staan wat ʼn gevaar skep en dat die eiendomsbelasting daarop in daardie stadium sowat R36 miljoen per jaar beloop het.

Verlede week is bekend gemaak dat daar nou 2 000 geboue leeg staan en 1 042 geboue onwettig beset word. In 2021 is die syfer reeds opwaarts aangepas tot 1 875 geboue wat nie in gebruik was nie.

Luidens die jongste verslag wat voorgelê is deur Infrastruktuur Suid-Afrika, word 62.6% van die staat se geboue as gangbaar tot sleg en uiters sleg beskou. Van hierdie geboue word 6 799 steeds gebruik.

Volgens Infrastruktuur Suid-Afrika is die departement van openbare werke en infrastruktuur se begroting onvoldoende om die agterstand in instandhouding uit te wis.

Die VF Plus herhaal sy waarskuwing dat die staat beter na sy bates moet omsien om dit van verval te red. Dit is ʼn belegging waarop hy moet kapitaliseer en die onus rus op die departement van openbare werke en infrastruktuur om die instandhouding te doen.

Deur na te laat om dit te doen, veroorsaak ʼn drastiese waardevermindering van die bates en die staat sal onvermydelik groot verliese lei met die verkoop daarvan. Eindelik is dit die belastingbetaler wat hiervoor moet opdok.

Die minister van openbare werke en infrastruktuur sal vinnig met ʼn plan vorendag moet kom om hierdie verval en onwettige besettings van die staat se bates stop te sit en om die huidige situasie om te keer.

Daar sal van die onwettige besetters ontslae geraak moet word en die nodige fondse sal gevind moet word om die bates van totale ondergang te red.

Indien die regering bevoeg was om die land effektief te regeer of te bestuur, sou hy nie nou in hierdie penarie gesit het nie.

Met hierdie optrede is die ANC-regering letterlik besig om die belastingbetaler van sy beleggings te beroof. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

PhilipVanStadenParlement

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!