VF Plus vra ondersoek na tien babas wat in Tembisa-hospitaal sterf

2020-01-21
Die Redaksie

"Die VF Plus gaan die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Bandile Masuku, versoek om dringend ‘n ondersoek te loods na die dood van tien babas in die Tembisa-hospitaal aan die Oos-Rand. Die babas is tussen 1 November en 31 Desember 2019 dood nadat hulle antibiotikaweerstandige bakteriële infeksies opgedoen het," sê Amanda de Lange, VF Plus-LPW in Gauteng.

"Die ondersoek moet nie net fokus op hierdie baba-sterftes nie. Oplossings moet gevind word om verdere infeksies en sterftes te voorkom. 

"Daar moet summier opgetree word teen die bestuurspersoneel onder wie se toesig onnodige  lewensverliese plaasvind.

Volgens ‘n woordvoerder van die departement van gesondheid is sewentien gevalle van antibiotikaweerstandige bakteriële infeksie in die hospitaal aangemeld wat tot die dood van tien babas gelei het.

 

"Die VF Plus is bekommerd oor die situasie in provinsiale hospitale se kraamsale waar daar met tye te veel pasiënte is. Dit, tesame met die gepaardgaande tekort aan personeel, onhigiëniese toestande in baie hospitale, swak infrastruktuur en onvoldoende toerusting, dra by tot die onaanvaarbare situasie wat pasiënte se lewe in gevaar stel en selfs lei tot sterftes." 

 

"Beter higiënesorg in sale en veral teaters moet te alle tye toegepas word. Nalatigheid by mediese personeel is 'n groot bydraende faktor in die verspreiding van lewensgevaarlike infeksies.

"Die VF Plus sal vanjaar onaangekondig hospitale besoeke en met pasiënte en verpleegpersoneel praat om die werklike stand van sake vas te stel.  

"Die party spreek sy simpatie uit met die ouers van die babas wat hul lewe verloor het," sê de Lange.

GautengAmandaDeLangeTembisa-hospitaalBaba-sterftes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!