Die omstandighede rondom die gewelddadige aanval op polisielede en waar ses verhoorafwagtende gevangenes in Limpopo ontsnap het, moet dringend ondersoek word.
Na wat berig word, het ’n groep swaargewapende verdagtes langs die eerste Schoemansdal-afdraai buite Louis Trichardt ‘n polisievoertuig aangeval.
Daar is op die polisielede geskiet wat die gevangenes vervoer het. Twee polisielede is ernstig gewond. Die gevangenes het in die voorval ontsnap.
Wat veral kommer wek, is dat die plaasboere en lede van die plaaslike buurtwag in Musina, wat aanvanklik die misdadigers aangekeer het in samewerking met die polisie, moontlik nou geteiken kan word.
Die VF Plus verwag dat die provinsiale regering homself sterk sal uitspreek teen geweldsmisdaad in Limpopo en sal onderneem om die voorval deeglik te ondersoek om die skuldiges vas te trek.
Maatreëls moet in plek wees om sulke voorvalle voorkom.
Die VF Plus sal druk toepas om seker te maak dat enige moontlike ongerymdhede rondom die ontsnapping blootgelê word.