"Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die polisie dat buurt- en plaaswagte weer toegelaat gaan word om hul werk te doen," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Dit is nogtans frustrerend en betreurenswaardig dat dit eers gedoen is nege dae na die regulasie (33(1)) wat minister Nkosazana Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), op 28 Mei 2020 uitgevaardig het wat dit duidelik stel dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer.
"Buurt- en plaaswagte sou ingevolge dié regulasie weer kon begin werk, maar daar het verwarring hieroor geheers wat nou eers uit die weg geruim is met die polisie-kennisgewing.
"Die party het ook ʼn spesiale versoek gerig tot minister Nkosazana Dlamini-Zuma om die groepe weer toe te laat om hul werk te hervat.
"Daar was sedert die inperking en die verbod op buurt- en plaaswagte ʼn skerp toename in plaasaanvalle.
Vandag is berig van ʼn aanval by Reivilo naby Schweizer-Reneke in Noordwes waar ʼn man met kookwater gemartel is. Gisteroggend is ʼn egpaar, Pieter (65) en Ann Nel (61) in hul plaashuis naby Brits, ook in Noordwes, oorval. Mnr. Nel is in die been en bors geskiet en is in ʼn ernstige toestand in ʼn hospitaal.
Vroeër vandeesweek is mnr. Wim Struyf (68) en sy vrou Martie (65) in hul huis in Mbombela in Mpumalanga aangeval. Die egpaar het ontkom nadat mnr. Struyf terugbaklei het met ʼn bofbalkolf en mev. Struyf ʼn alarm geaktiveer het.
"Die VF Plus verwelkom die verwikkeling, maar betreur die feit dat talle ernstig aanvalle in die afgelope weke waarskynlik verhinder sou kon word indien die regering vroeër ag geslaan het op die VF Plus se versoeke in dié verband," sê Groenewald.