Die VF Plus in Mpumalanga verwelkom die inhegtenisneming gister van 'n verdagte vir beweerde betrokkenheid by 'n plaasmoord hierdie week.
Johan Nortje (66) is Sondag tydens 'n plaasaanval vermoor en sy vrou (56) aangerand op hul plaas Wilgekraal in Badfontein in die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit.
Die 36-jarige verdagte is Maandagaand in eMalahleni/Witbank in hegtenis geneem. Dit het gevolg na gesamentlike pogings van die polisie se honde-eenheid en ander plaaslike wetstoepassingsagentskappe.
Mpumalanga is ʼn duidelike brandpunt met hierdie jongste plaasmoord, wat die vyfde plaasmoord in ʼn baie kort tydsbestek in dié provinsie is.
Die provinsie beleef die afgelope maande ʼn baie ernstige toename in plaasaanvalle, met slagoffers wat hul lewe op ʼn brutale wyse verloor het.
Die wyse waarop boere, plaaswerkers en hul gesinne blootgestel word aan die ergste vorm van marteling, is onmenslik en mag nooit die norm word nie.
Die VF Plus sal alle moontlike druk uitoefen om toe te sien dat die moordenaars in alle gevalle in hegtenis geneem en vervolg word.
Die VF Plus eis spoedige en besliste optrede en geen borgtog wanneer die moordenaars gevang word nie.
Die party spreek sy innige simpatie uit met mnr. Nortje se naasbestaandes.