VF Plus verwelkom geregtelike ondersoek na Life Esidimeni

2020-02-06
Die Redaksie

"Die VF Plus verwelkom die aankondiging vandag in die media, dat ‘n geregtelike ondersoek ingestel gaan word na die dood van 144 pasiënte, wat deur die Gautengse departement van gesondheid aan onbekwame nie-regeringsorganisasies oorhandig is nadat die departement sy kontrak met Life Esidimeni gekanselleer het," sê Philip van Staden.

"Die VF Plus het destyds volgehoue druk op die provinsiale regering van Gauteng geplaas om die tragedie te ondersoek en stappe te neem teen die voormalige LUR van gesondheid, Qedani Mahlangu, en die omstrede destydse hoofsweep van die ANC in die Gauteng-wetgewer, Brian Hlongwa.

"Volgens berigte het die minister van justisie en korrektiewe dienste, ‘n versoek van die Nasionale Vervolgingsgesag goedgekeur dat ‘n geregtelike ondersoek na die voorval gedoen word.



"Die VF Plus het op 3 September 2019 in die portefeuljekomitee van gesondheid in die parlement die Life Esidimeni-tragedie teruggeplaas op die nasionale agenda.Die VF Plus het aangevoer dat die tragedie herbesoek moet word om te voorkom dat weer so ‘n tragedie ooit plaasvind."

 

"Die VF Plus het sedert die begin van die tragedie dit onomwonde gestel dat die party nie sal rus voordat die persone wat vir die tragedie verantwoordelik was aan die pen ry nie. Die VF Plus het ook destyds druk op die provinsiale regering geplaas om Qedani Mahlangu terug na Suid-Afrika te bring nadat sy na Engeland “verdwyn” het om kamstig verder te studeer. Mahlangu was toe terug gebring na Suid-Afrika en het ook verskyn voor die destydse kommissie van ondersoek wat gelei was deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke," sê van Staden.

PhilipVanStadenLifeEsidimeni

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!