VF Plus verwelkom die bekendmaking van lesplanne vir beplande seksonderrig

2019-11-14
Die Redaksie

"Die VF Plus verwelkom die feit dat die departement van basiese onderwys eindelik die publiek in sy vertroue neem rakende die inhoud van die beplande seksonderrig in skole. Dit volg na groot druk van die VF Plus, ander partye en die burgerlike samelewing om lesplanne bekend te maak," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

"Talle besware teen dié leerinhoud is ontvang en die organisasie Freedom of Religion SA (FORSA) moet in dié verband genoem word.

"Die departement het besluit om sy benadering ten opsigte van seksonderrig in Suid-Afrikaanse skole te hersien, in die lig van die groeiende aantal tienerswangerskappe en verspreiding van MIV. Nuwe voorgeskrewe lesplanne is ontwikkel en gedurende 2018 as 'n loodsprojek by bepaalde skole in werking gestel.

 

"Toe dit geëvalueer is, was van die bevindings dat onderwysers nie gemaklik daarmee is nie en dat dit leerders se belangstelling in seks verhoog het."

 

"Ná hierdie verslag het die departement voortgegaan met planne om die lesplanne by alle skole te implementeer. Die aanvanklike tydraamwerk het vir 2021 voorsiening gemaak, maar die vermoede het ontstaan dat dit reeds vroeër geïmplementeer gaan word.

"Die VF Plus het, met die eerste berigte in Mei vanjaar, ouers aangemoedig om dop te hou wanneer hierdie inhoude vir openbare deelname versprei gaan word en dan hul stem te laat hoor. Later is die minister in 'n skriftelike vraag gevra of ouers en onderwysers gekonsulteer is en of sy kan bevestig dat die nuwe lesplanne nie in Januarie 2020 geïmplementeer gaan word nie.

 

Hierdie vrae is nog nie beantwoord nie, maar die lesplanne is wel op die departement se webwerf gepubliseer. Dit is by https://www.education.gov.za/Home/ComprehensiveSexualityEducation.aspx  beskikbaar.

 

"Hoewel daar positiewe inhoude ook in die lesplanne is, is die eksplisiete aard en die waardes wat dit in ander dele aankweek, nie vir die VF Plus aanvaarbaar nie."

 

"Ouers en ander belanghebbendes kan hulleself nou van die inhoud vergewis en is nie meer van uittreksels afhanklik om hul mening te vorm nie," sê Boshoff.

 

Die VF Plus wil almal wat voel dat hulle tot die gesprek wil bydra, aanmoedig om dit te bestudeer en hul reaksies aan Khala.T@dbe.gov.za te stuur. Van daar af sal dit na die portefeuljekomitee vir basiese onderwys gekanaliseer word.

 

DrWynandBoshoffOnderwys

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!