VF Plus versoek debat oor die effek van minimumloon op klein ondernemings

2019-09-03
Die Redaksie

Die VF Plus het vandag in ‘n sitting van die nasionale vergadering ‘n parlementêre debat aangevra oor die uitwerking van die nasionale minimumloon op klein ondernemings.

Suid-Afrika gaan gebuk onder ‘n werkloosheidskrisis met ‘n werkloosheidskoers van 29%, die hoogste in sestien jaar.  Die uitgebreide werkloosheidskoers is 38%.  Dit is van die hoogste in die wêreld.

"Klein- en medium ondernemings is die grootste skepper van werksgeleenthede, maar sowat 80% van nuwe klein ondernemings misluk binne die eerste jaar.  Beperkende arbeids- en ander wetgewing dra by tot die hoë mislukkingskoers," sê Heloïse Jordaan, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.

 

"Die VF Plus is van mening, in ooreenstemming met sekere voorstelle soos vervat in die minister van finansies, Tito Mboweni, se voorgestelde strategiedokument, dat sodanige wetgewing vir klein ondernemings verslap moet word."

 

"Dit is uiters belangrik dat die departement van arbeid se uitgebreide mandaat om werkskepping te bevorder, voorkeur geniet.

"Klein- en medium ondernemings moet in staat gestel word om by te dra tot die ekonomie en die verligting van die land se probleme en mag nie ter wille van die ANC se alliansievennote soos Cosatu opgeoffer word nie," sê Jordaan.

 

HeloïseJordaanArbeidWerkloosheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!