VF Plus uiters bekommerd oor openbare werke se besteding van R82 miljoen se Covid-19-fondse

2020-06-09
Die Redaksie

"Die VF Plus is uiters bekommerd oor die departement van openbare werke se besteding en klaarblyklike vermorsing van geld tydens die Covid-19-tydperk," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare werke en infrastruktuur.

"In ‘n geskrewe vraag van die VF Plus aan minister Patricia de Lille (minister van openbare werke) oor of die betrokke departement enige tenders toegeken het wat verband hou met die Covid-19-pandemie en of daar afgewyk is van die standaard-verkrygingsprosedures, het De Lille geantwoord dat daar wel afgewyk is van prosedures weens die ramptoestand.

"Ingevolge Artikel 27(2)(L) van die Rampbestuurswet (nr. 57 van 2002) en die regulasies van nasionale tesourie, word daar voorsiening gemaak vir die afwyking in die noodverkryging van sekere dienste, items en goedere, soos in haar antwoord vervat.

 

Minister De Lille se antwoord laat rooi ligte flikker oor die geld wat bestee is. Hier vol enkele voorbeelde:

1. Die verkryging van 1 000 outomatiese handreinigers vir die Kaapstadse streekkantoor van die departement vir ‘n bedrag van R3 864 000,00 (R3 864,00 per eenheid).
2. Die sterilisering van ses landdroskantore in die Durban-gebied vir ‘n totale bedrag van R10 235 495,00 (R1,8 miljoen in die Midlands-distriksmunisipaliteit, R1,8 miljoen in uMgungundlovu, R1,8 miljoen in eThekwini, R1 050 448,00 in Ugu, R1 878 831,00 in EThekwini en R1,7 miljoen in die Zululand-distriksmunisipaliteit.)
3. Die sterilisering van ‘n gebou in Pretoria vir die bedrag van R914 147,00 en nog ‘n gebou, ook in Pretoria vir R553 631-00.
4. Handreinigingsvloeistof vir die departement se hoofkantoor vir die bedrag van R9 085 000,00.
5. Die verkryging van 65 outomatiese handreinigers vir die Kimberley-streekkantoor vir ‘n bedrag van R657 162-00 (R10 110,18 per eenheid)
6. Die verskaffing van sanitêre dienste vir een jaar vir die bedrag van R994 529,00 aan die Mmabatho-streekskantoor.
7. Die verskaffing van farmaseutiese maskers vir die Pretoria-streekkantoor vir die bedrag van R2 132 000-00 (dit is nie duidelik hoeveel maskers bestel ter sprake is nie).
8. Die oprig van infrastruktuur vir die Salvokop-kwarantyngerief in Pretoria teen ‘n bedrag van R1 333 348,00
9. Die Beitbrug-grensdraad teen R40 miljoen. (Wat sedertdien erg gevandaliseer is).10. IT-, video- en sekuriteitsdienste by die departement se hoofkantoor teen ‘n bedrag van R12 501 698,00.

 

"Die totale bedrag wat deur die departement gebruik is in die Covid-19-tydperk vir die noodbesteding sonder om van die gebruiklike verkrygingsprosedures gebruik te maak, beloop R82 706 925,00.

 

"Dit wil voorkom of daar in hierdie tyd skreiend misbruik gemaak is van die afwyking in die normale verkrygingsprosedure en dit is veral nie duidelik of die betrokke maatskappye in staat is om wel die dienste te kan lewer nie."

 

"By die VF Plus is daar geen twyfel nie dat dit die weg baan vir grootskeepse korrupsie. Die party sal onder meer wil sien hoe lyk die outomatiese handreinigers wat R3 864 elk gekos het.

"Hierdie inligting moet ook harde vrae laat opklink oor gedwonge kwarantyngeriewe waarvoor groot bedrae geld bewillig is terwyl dit in ʼn haglike toestand is en nie aan gesondheidstandaarde voldoen nie.

"Dit wil voorkom of die minister in hierdie stadium geen beheer het oor haar departement se besteding nie en die VF Plus sal toesien dat sy verantwoording doen vir alle uitgawes," sê van Staden.

PhilipVanStadenGesondheidOpenbareWerkeinfrastruktuur

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!