VF Plus-ondersoek oor kooptransaksie van plase dui op moontlike grootskeepse onreëlmatigheid met geld van die staatsdiens-pensioenfonds (GEPF)

2020-02-04
Die Redaksie

"Die VF Plus sal die Valke vra om ondersoek in te stel na ʼn transaksie waar geld van die staatsdiens-pensioenfonds gebruik is om ʼn buitensporige prys te betaal vir twee plase van net meer as ʼn duisend hektaar tesame," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van finansies.

Volgens ʼn kennisgewing in die Landbouweekblad gedateer 31 Januarie 2020 het die staatsdiens-pensioenfonds (GEPF) ʼn bedrag van R586 500 000 betaal vir die plase Palmietfontein (403) van 547 ha en IP (564) van 481 ha.

"Dit kom neer op ʼn bedrag van R570 000 per hektaar terwyl die algemene prys in dié omgewing en vir soortgelyke grond minder as R20 000 per hektaar beloop.

"Die VF Plus het self ondersoek gaan instel om vas te stel of daar enige ontwikkeling op die grond is, maar kon op die oog af nie enige ontwikkeling sien nie. Die plase grens aan die N12 tussen Stilfontein en Klerksdorp.

"Die transaksie is gedoen deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat reeds op verskeie vlakke ondersoek word oor die roekelose aanwending van geld van die GEPF. Die VF Plus kan ook bevestig dat die kompetisie-kommissie die transaksie goedgekeur het.

 

"Dit laat dwingende vrae ontstaan oor die ketting van besluite en goedkeuring wat met die transaksie gevolg is en benewens die ondersoek wat die VF Plus van die Valke sal aanvra, sal die party self verdere ondersoekwerk doen rondom die twyfelagtige beleggings van die OBK met geld van die GEPF."

 

"Die kooptransaksie van die twee plase is volgens die Landbouweekblad gefinaliseer tussen 16 en 22 Junie verlede jaar (2019) en die eienaar van die grond was die omstrede maatskappy Isago@N12 Development (Edms) Bpk.

"Isago was voorheen betrokke by 'n transaksie waar meer as R200 miljoen van die munisipale raadslede-pensioenfonds ook in ʼn grondtransaksie gebruik is. In dié geval het ʼn hof bevind dat daar R110 miljoen meer betaal is as wat die waarde van die grond was en Isago is beveel om dit terug te betaal aan die fonds.

"Die transaksie het nogtans daartoe gelei dat die fonds onder kuratorskap geplaas is. Die VF Plus sien besondere ooreenkomste tussen dié transaksie en die huidige een waar geld van die GEPF betrokke is.

 

"Die VF Plus sal aandring op antwoorde oor waarom die GEPF hierdie buitensporige prys vir die grond betaal het, wie die transaksie gemagtig het en wanneer en vir hoeveel Isago die grond bekom het. Wat blote landbouwaarde aanbetref, is daar geen manier hoe hierdie prys per hektaar geregverdig kan word nie."

 

"Wat die aanwending en misbruik van die GEPF aanbetref, was daar in die onlangse verlede verskeie kwelvrae wat die rooi ligte laat flikker het. Hierdie geval dui volgens die VF Plus onteenseglik op die misbruik van staatsamptenare se pensioenfonds.

"Die VF Plus sal benewens sy eie ondersoek ook die ondersoek van die Valke dophou om seker te maak dat moontlike korrupsie ontbloot word en die skuldiges aangekla en vervolg word. Korrupsie en bedrog op alle vlakke het die land reeds te veel skade veroorsaak. Dit met nou stopgesit word," sê Wessels.

 

 

WouterWesselsFinansies

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!