VF Plus loods veldtog teen swak behandeling in staats- en provinsiale hospitale

2022-08-10
Philip van Staden

Die VF Plus het ʼn veldtog van stapel gestuur teen die swak behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale. (Sien aangehegte video).

Die party het ook reeds op 7 Julie vanjaar die Menseregtekommissie (MRK) skriftelik versoek om ʼn soortgelyke ondersoek te doen nadat daar die afgelope jaar in die media wyd berig is oor die wanorde waarin hierdie instellings verkeer.

Sedert die VF Plus op 14 Julie 2022 met die veldtog begin het, wat slegs op sosiale mediaplatforms gedeel was, het klagtes ingestroom van regoor die land.

Uit een hospitaal in die Oos-Kaap, die Uitenhage-hospitaal, is nie minder nie as tien klagtes ontvang. Klagtes stroom egter vanaf al nege die provinsies in.

Die VF Plus gaan hierdie klagtes ook aan die MRK oorhandig nadat dit verwerk en getranskribeer is.

Die tyd het aangebreek dat daar opgetree word teen die regering en die wanpraktyke wat in Suid-Afrikaanse staats- en provinsiale hospitale plaasvind. Die publiek het nou genoeg gehad van die wyse waarop pasiënte behandel word.

Die VF Plus versoek alle Suid-Afrikaners om hul ervaringe in hierdie instellings (anoniem indien verkies) per stemnota te stuur aan 060 556 4347.

Slaan saam met die VF Plus terug teen swak gesondheidsorg. Die tyd vir opstaan en aksie neem is nou.

PhilipVanStadenStaatshospitale

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!