VF Plus help met opruim van Ou Raadsaal op Kerkplein

2019-09-02
Die Redaksie

"Die VF Plus in Pretoria het Saterdag ingespring en gehelp met die opruim van die Ou Raadsaal op Kerkplein nadat dit gevandaliseer is deur EFF-lede tydens ‘n vergadering," sê Sakkie du Plooy, VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir Kuns en Kultuur in die Tshwane-metroraad.

Die VF Plus het ook vergader met bewaringskundiges en ander rolspelers in Pretoria soos die Erfenisstigting oor die opstel van ‘n bewaringsplan om kultuur-historiese geboue, wat deel is van die Afrikanergeskiedenis, te restoureer en te bewaar.

"Brandkrane wat oopgedraai is en water wat in die gange gespuit is, het die grootste skade aan die saal veroorsaak. Water wat op die eerste verdieping gespuit is, het deurgesypel na die grondverdieping en het groot gate in twee plafonne veroorsaak.

"Die portaal en die stoele na die hoofraadskamer is bedek met die poeier van brandblussers wat gespuit is.  Die Ou Raadsaal behoort aan die Gautengse regering en die Tshwane-metroraad moet dit onderhou.

"Die amptenaar in beheer van die Ou Raadsaal, Artur D’Almeida, het dadelik ‘n saak geopen teen die vandale en sal, met  die ondersteuning van die VF Plus  toesien dat die ondersoek na die vier persone, wat reeds in hegtenis geneem is, spoedig en behoorlik gedoen word.

"Die metroraad gebruik die kantoorruimte en onderhou die gebou sonder ‘n duidelike ooreenkoms. Een van die amptenare in die gebou het aan die EFF toestemming gegee om daar te vergader. Mnr. D’ Almeida ondersoek hierdie aangeleentheid.

Die VF Plus, in samewerking met die betrokke departement van die Tshwane-metro het begin met beplanning om die skade so spoedig moontlik te herstel. Planne word opgestel om die binnekant van die saal in sy geheel te restoureer aangesien dit op plekke vervalle is.

"Die VF Plus sal toesien dat toegang tot die Ou Raadsaal voortaan beheer word en dat die vervalle binnekant spoedig herstel en onderhou word," sê du Plooy.

TshwaneSakkieDuPlooy

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!