VF Plus-Fiskale Beleidsraamwerk: Voorstelle tot ʼn welvarende ekonomie

2017-10-23
Dr Pieter Groenewald

Suid-Afrika beleef tans ʼn ongekende ekonomiese krisis vanweë die wanbestuur en vergrype van die ANC-regering.

Die VF Plus het teen hierdie agtergrond ʼn deeglike fiskale beleidsraamwerk saamgestel met innoverende voorstelle om die land se ekonomie weer op die pad na welvaart te plaas.

Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is die omvang van die land se ekonomiese krisis tans van so aard dat daar vernuwend gedink en opgetree sal moet word om die ekonomie weer te laat groei.

Een van die voorstelle is die daarstelling van ʼn Fiskale Kommissie (FK), soortgelyk aan instellings soos in die VSA, Nederland, België, Oostenryk, Denemarke, Kanada en Japan.

Die taak van die FK sal onder meer wees om te sorg dat ʼn onafhanklike instelling oorsig oor fiskale beleid uitoefen net soos die Reserwebank tans op ʼn onafhanklike wyse oorsig uitoefen oor monetêre beleid.

Hierbenewens word daar ook klem gelê op die grondbeginsels van ʼn suksesvolle vryemarkstelsel aangesien net ʼn volwaardige vryemarkstelsel volgens die VF Plus die ekonomie maksimaal kan laat ontwikkel, vry van die remblokke van staatsinmenging.

Daar word gewys op die belangrikheid van private eiendomsreg wat die hoeksteen van die vyemarkstelsel is en waarsonder daar geen insentief sal wees om met Suid-Afrika handel te dryf nie.

Van die verskeidenheid punte wat in die dokument behandel word, sluit in ʼn kleiner en meer funksionele regering en staatsinstellings vry van korrupsie, beter polisiëring, onderwys en mediese dienste, meriete-aanstellings en ʼn billike belastingstelsel.

Dr. Groenewald sê die VF Plus beskou die FK as van die uiterste belang om te verseker dat oorbesteding van die regering beperk word in belang van die belastingbetaler, en om seker te maak dat die staat nie oor die fiskale afgrond bestuur word nie.

 


VF PLUS SE FISKALE BELEID
OKTOBER 2017
1) Kernaannames

Die VF Plus se fiskale beleid is gegrond op die volgende kernaannames:

a) Net die vryemark kan ekonomiese waarde volledig ontsluit, skep, bevorder en beskerm;
b) Die vryemark gee erkenning aan die individu se aard en natuur as ʼn handeldrywende wese gedryf deur die persoonlike motivering van self-aktualisering;
c) Die hoeksteen van die vryemark is privaat eiendomsreg waarsonder daar geen aanmoediging sal bestaan om handel te dryf nie;
d) Die voorvereiste vir die daarstel van die waardeskeppende siklus is soos volg:
i) ʼn Klein en effektiewe regering en staatsadministrasie.
ii) ʼn Vryemark met min regeringsinmenging, polisiëring van misdaad (spesifiek die beskerming van eiendomsreg) en die daarstelling van gehalte basiese- en hoër onderwys en gesondheidsorg vir die behoewendes.
iii) ʼn Billike belastingstelsel wat nie rykdomskepping ondermyn nie.
iv) ʼn Effektiewe staatsadministrasie met zero-toleransie vir korrupsie en effektiewe vervolging van oortreders.
v) ʼn Fiskale tekort wat ten minste gelyk is aan die kapitaalbesteding van die staat. Dit sal beteken dat die staat nie meer spare vernietig of onspaar soos tans die geval is nie.
e) Handel lei tot wedersydse voordele vir die koper en die verkoper. Handel lei ook tot die beter toedeling (allokering) van skaars hulpbronne. Verder vind handel, produksie en alle ekonomiese aktiwiteite altyd plaas om uiteindelik die verbruiker te dien. Daarom is dit van belang om die verbruiker eerste te stel en om handel so vry moontlik te maak. Verder sal ʼn toename in handel ook lei tot ʼn groter verskeidenheid van produkte vir verbruikers teen laer pryse. Dit lei weer tot laer inflasie, laer rentekoerse en uiteindelik nog sterker groei. Handel is een van die sterkste kragte wat ekonomiese groei ondersteun en daarom moet handel altyd so vry moontlik gemaak word met so min moontlik hindernisse en belastings wat in die pad van handel kan staan.

2) Fiskale Beleid

a) Voorvereistes vir billike fiskale beleid: Die effektiewe implementering van handhaafbare fiskale beleid kan net bereik word indien die verkose regering die volgende feite ter harte neem:
i) Die regering is bloot die bestuurder van die staat by wyse van kontrak – die Grondwet – en is finaal verantwoordbaar aan die burgery.
ii) Ingevorderde belasting behoort aan die burgery en nie aan die regering nie. Die regering bestuur belastings vir die staat waar die staat moet omsien na die belasting-ontvangste en dit aanwend namens en tot voordeel van die burgery.
iii) Sonder belastingbetalers sal die regering nie fondse hê om die staatsadministrasie te bestuur nie. Die regering en staat het dus ʼn verantwoordelikheid om nie die belastingbetaler te vervreem nie, om sodoende te verhinder dat belastingvermyding maksimaal toegepas word.

b) Billike fiskale beleid:

i) Beperkte regeringsgesag: In wese moet ʼn regering slegs gesag uitoefen oor sake wat in die openbare belang is. Daar bestaan tradisioneel drie kernfunksies waar die regering wel gesag mag uitoefen:
(1) Weermag: Die beskerming van die burgery teen eksterne gevare.
(2) Polisie: Die beskerming van die burger teen interne gevare.
(3) Justisie: Onafhanklike goeie howe en regstelsel vir siviele en strafsake.
ii) Daar bestaan ook sekondêre funksies wat deur die staat vervul kan word op grond van die feit dat dit in openbare belang is en die staat goed geposisioneer is om aandag te gee aan die funksies op ʼn nasionale vlak by wyse van belasting:
(1) Gesondheidsorg: Die beskerming van die armes teen gesondheidsprobleme. ʼn Omgewing vir privaat gesondheidsdienste moet geskep word vir kwaliteit en koste-effektiewe dienste. Staatshospitale en -klinieke moet deur privaat diensverskaffers bestuur word.
(2) Onderwys: Die daarstelling van goeie, relevante, gehalte basiese- en hoër onderwys ten einde ʼn werksmag te skep wat internasionaal kan meeding in ʼn globaliserende wêreld. ʼn Omgewing vir privaatskole en tersiêre onderrig moet geskep word vir kwaliteit en koste-effektiewe onderrig.
(3) Infrastruktuur: Die daarstelling en onderhoud van openbare paaie, brûe, openbare vervoerstelsels, damme, waterstelsels, treinspore, elektrisiteits-verspreidingstelsels, ens.
(4) Maatskaplike Sorg: Maatskaplike toelaes is geregverdig, maar kwalifikasie-vereistes moet sodanig wees dat die staat dit kan bekostig en dit moet gereeld heroorweeg word.
iii) Privaat-inisiatief: Die staande reël moet wees dat die regering en staat op geen wyse self mag deelneem aan die vryemark nie vanweë die onbehoorlike voordeel wat geskep word weens die disproporsionele mag, grootte en polisiëringsvermoë van die staat.
(1) Dienste: dienste moet deur die vryemark daargestel word deur besighede wat geleenthede raaksien en beide privaat- en openbare dienste lewer in mededinging met mekaar ten einde effektiewe en lae markgedrewe pryse te verseker. Openbare dienste wat beter deur die privaat besighede gelewer kan word, is onder meer, soos volg:
• Lugrederye: ʼn Staatslugredery het geen bestaanreg nie en kan hoogstens aanvanklik bestaan in die vorm ʼn openbare-privaat vennootskap waarna dit stelselmatig heeltemal geprivatiseer moet word.
• Kragverskaffing: Die aanvanklike infrastruktuur vir kragverspreiding moet deur die regering daargestel word, maar kragopwekking moet oorgelaat word aan mededingende bedrywe wat by wyse van innovasie sal meeding om skoner en optimale krag te verskaf en in die verspreidingstelsel in te voer vir verspreiding en verkope. Dit beteken Eskom moet opgebreek en geprivatiseer word.
• Posdienste: Posdienste moet volledig geprivatiseer word en ʼn omgewing vir mededinging moet geskep word teen die agtergrond van die groeiende gebruik van elektroniese kommunikasie.
iv) Staatskuld:
(1) Dit is die staat se verantwoordelikheid om te sorg dat ʼn omgewing gunstig vir die vryemark geskep word waarbinne die ekonomie kan groei.
(2) Enige tekorte in die begroting kan hoogstens deur skuld aangevul word indien die tekort en kapitaalbesteding ten minste dieselfde is.

c) Voorstelle vir fiskale beleid:

i) Staatsbesteding: Die regering mag nie meer bestee as wat hy inkry deur belasting nie. Dit sal die regering dwing om eerder beleid te implementeer wat die ekonomie sal laat groei.
ii) Persoonlike en Maatskappybelasting: Persoonlike en maatskappybelasting moet verlaag word ten einde belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep.
iii) BTW - BTW moet eerder as billike instrument gebruik word. BTW verbreed die belastingbasis en BTW is juis billik omdat almal meer sal betaal, maar aan die ander kant van die maatskaplike spektrum sal fondse beskikbaar gestel word om ook beter in maatskaplike behoeftes te voorsien.
iv) Besparings:
(1) Die regering moet bykans alle staatsondernemings privatiseer deur middel van ʼn mengsel van gedeeltelike verkoping en volle verkoping. Die SAL en Eskom is eerste op die lys vir privatisering.
(2) Staatsdiens-aanstellings moet slegs op grond van meriete geskied.
(3) Korrupsie moet uitgeroei word.
(4) Die staatsdiens moet verklein en ministeries moet verminder word.
(5) Onderwys:
• Die gehalte van basiese onderrig wat tans die grootste deel van die begroting opneem, moet drasties verbeter word. Die departement moet meer effektief funksioneer met die grootste uitgawes wat gaan aan die bou van meer skole. Moedertaalonderrig moet bevorder word.
• Die bestuur van skole moet uitgekontrakteer word na die privaatbedryf met ʼn mandaat om ook arm leerders by te staan en te verseker dat hulle wel skool bywoon. Leerlinge moet onderrigkoepons ontvang wat ingedien word by die skool waar hulle onderrig word, en waar die staat dan die subsidie wat aan leerlinge gekoppel is, aan die betrokke skool betaal.
• Behoeftige leerders moet gratis skool kan bywoon en die privaat-bestuurders moet saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling en die landboubedryf sorg dat voedselprogramme geskep word.
• Vakbonde in die basiese onderwysomgewing vir onderwysers moet vervang word met ʼn konsiliasie- en arbitrasiestelsel ten einde massa-stakings en ongedissiplineerde onderwysers aan te spreek, veral in minder gegoede skole waar leerders die meeste aandag nodig het.
• Onderwysers wat bereid is om in minder gegoede skole te werk, moet hoër besoldiging ontvang en prestasie-bonusse moet vir alle onderwysers beskikbaar gestel word met hoër bonusse vir onderwysers in minder gegoede skole.
• Beurse vir presterende leerders op grond van meriete en finansiële behoefte moet in samewerking met verskeie privaatbedrywe beskikbaar gestel word en finansiële pryse moet beskikbaar gestel word vir behoeftige leerders wat onderskeidings kry in wetenskap en wiskunde.

v) Fiskale Kommissie:
ʼn Fiskale Kommissie (FK) moet geskep word, soortgelyk aan instellings in, onder meer, die VSA, Nederland, België, Oostenryk, Denemarke, Kanada en Japan. Die taak van die FK is om te sorg dat ʼn onafhanklike instelling oorsig oor fiskale beleid uitoefen net soos die Reserwebank tans op ʼn onafhanklike wyse oorsig uitoefen oor monetêre beleid. Die minister van finansies sal geen bevoegdheid hê om in te meng in die werksaamhede en besluite van die FK nie. Die FK sal aangestel word deur die parlement en sal bestaan uit tien kundige persone waarvan vyf deur die regering aangestel word en vyf deur die opposisie.

Enige ekstra belasting gevorder sal in ʼn soewereine-fonds geplaas word as fiskale kussing vir moeilike tye.

Die FK se funksies sal soos volg wees:

(1) Die FK sal beheer hê oor die vasstel van die BTW-koers en mag dit wysig na gelang van fiskale behoefte ten einde te sorg dat die regering se fiskale tekort-teikens gehaal word.
(2) Die BTW-koers mag twee keer in ʼn finansiële jaar aangepas word: tydens die begroting en tydens die aansuiwerings-begroting.
(3) Die BTW-koers se opwaartse aanpassing sal beperk word in lyn met die volgende:
• Dat die regering en staatsdiens klein moet bly en salarisaanpassings vir staatsdiensamptenare nie inflasie oorskry nie.
• Dat staatsuitgawes vir die volgende 5 jaar meestal befonds word deur die verkoop van staatsondernemings en staatsbates, soos grond.
• Dat die ekonomie weer op dreef kom deur die vryemark te beskerm wat ander belastinginkomste sal verhoog weens die verbreding van die belastingbasis.
vi) Die FK sal navorsing doen en kort-, medium-, en langtermyn fiskale- en begrotingsprojeksies skep.
vii) Navorsing doen oor die koste- en ander negatiewe implikasies van bestaande en beplande beleid van die regering.
viii) Nabetragting hou oor BTW-besluite en vorige begrotings ten einde beter te beplan vir die toekoms.

3) Opsomming:

i) Te veel staatskuld en korrupsie het talle samelewings al in duie laat stort. Daarom sal drastiese stappe geneem moet word om skuld te verminder indien die land nie oor die afgrond wil stort nie.
ii) Die plan bo uiteengesit sal egter meer doen as net skuld verminder. Dit sal ook:
(1) Die ekonomie en werkskepping aktiveer en dus besparing verhoog en die belastingbasis verbreed.
(2) Mededinging verhoog wat sal lei tot laer pryse en beter dienste in die staat en privaatsektor.
(3) Verseker dat die land reg geposisioneer is vir internasionale handel
(4) Verseker dat genoeg belastinginkomste geskep word vir ʼn billike en effektiewe begroting en verhinder dat te veel fondse geleen word om die begroting te laat klop.
(5) Sorg dat besparing verhoog word deur die skep van ʼn soewereine fonds waarin enige oorskot-belasting en ander besparings van die regering geplaas word.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!