VF Plus eis daadwerklike optrede in wanfunksionele Matjhabeng

2020-02-05
Die Redaksie

"Vinniger politieke optrede is nou nodig in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) wat Dinsdag ‘n Artikel 106-kennisgewing van die Vrystaatse regering ontvang het," sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die nasionale raad van provinsies.

"Ingevolge die kennisgewing eis die LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede inligting oor die munisipaliteit se statutêre verantwoordelikhede en wat Matjhabeng gedoen het om teen wandaministrasie, bedrog en wanbestuur op te tree.

"Die VF Plus neem kennis van die ingryping deur die Vrystaatse regering in Matjhabeng, maar die gevaar bestaan dat nog ‘n ondersoek deur die departement vrugteloos kan wees, soos die geval was in 2018 toe die destydse LUR, Oupa Khoabane, ook ‘n Artikel 106-kennisgewing aan die munisipaliteit oorhandig het, maar daar geen verdere stappe geneem is nie.

 

Dít is die nalatenskap van jare se plundering en geen politieke wil van die ANC in Matjhabeng: Die afgelope naweek se waterkrisis in die munisipaliteit, stukkende waterpype wat nie herstel word nie, riool wat in strate loop, slaggate wat nie herstel word nie en munisipale werkers wat nie betaal word nie.

 

"Matjhabeng-munisipaliteit is ook verlede jaar deur die ouditeur-generaal (OG) uitgewys as een van die swakste munisipaliteite. Die VF Plus het toe reeds die OG se kommer gedeel aangesien die munisipaliteit meer as R169 miljoen aan belastingbetalers se geld op vrugtelose en verkwiste uitgawes gemors het.

"Die VF Plus sal die LUR, Thembeni Nxangisa, versoek om seker te maak dat die verslag en voorstelle van die departement so gou as moontlik aan die komitee vir samewerkende regering in die Vrystaatse Wetgewer bekend gemaak word.

"Die VF Plus sal aanhou veg om seker te maak dat planne vir Matjhabeng in werkbare en effektiewe aksies oorgaan sodat inwoners die dienste kry wat hulle verdien," sê Cloete.

 

MatjhabengArmandCloeteVrystaat

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!