VF Plus distansieer hom van Dhlomo se uitsprake oor verslag van mededingingskommissie

2019-10-02
Die Redaksie

"Die VF Plus distansieer hom van die uitsprake van die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, dr. Sibongiseni Dhlomo, dat die mededingingskommissie se verslag oor sy markondersoek na die private gesondheidsorgbedryf daarop dui dat transformasie nodig is en dat ‘n geheel nuwe orde vir die gesondheidsektor in Suid-Afrika daargestel moet word," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.

"Die VF Plus is lid van die portefeuljekomitee en stem nie met die voorsitter se uitsprake saam nie. Die VF Plus is nog besig om die verslag van die kommissie te bestudeer, maar in hierdie stadium wil dit voorkom of die regering en die ANC hierdie verslag gebruik om die private gesondheidsorg behoorlik by te kom om die inwerkingstelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te regverdig.

 

"Die VF Plus voel sterk daaroor dat daar groot probleme in die openbare gesondheidsorg bestaan en dat die private gesondheidsorgbedryf wel nodig is vir gesondheidsdienste se voortbestaan in Suid-Afrika."

 

"Sonder private gesondheidsorg sal gesondheid in Suid-Afrika heeltemal in duie stort. Die vraag moet gevra word waarom die verslag van die mededingingskommissie juis nou bekend gemaak word, nadat dit reeds in 2014 van stapel gestuur is, noudat die regering hom haas om die NGV op die wetboek te kry.

 

"Hierdie verslag word nou deur voorstanders van die NGV gebruik om die uiters swak toestande van openbare gesondheidsorg te probeer verbloem en die kalklig daarvan weg te draai met ‘n tipe heksejag teen private gesondheidsorg."

 

"Alle foute in die privaat gesondheidsorg word nou uitgewys, maar daar word nie naastenby soveel klem gelê op die openbare gesondheidsorg wat reeds in duie gestort het nie. Die regering probeer nou sy eie foute ignoreer en pak met die uitreik van hierdie verslag alle skuld op die skouers van die private bedryf. 

"Die VF Plus beskou dr. Dhlomo se uitsprake as uiters voortydig aangesien die openbare deelnameproses nog nie afgeskop het nie.

"Dit opsigself skep ‘n probleem aangesien die voorsitter, wat ‘n ANC-lid is, nie namens die ander partye se lede in die komitee ‘n uitspraak kan maak of besluite kan neem nie.

"Dit gaan ook wantroue skep in die openbare deelnameproses. Die VF Plus het reeds deur middel van ‘n mosie ‘n debat in die parlement aangevra oor die ineenstorting van die openbare gesondheidsorg en die hoë getal van onverklaarbare sterftes en swak dienslewering wat in die bedryf  plaasvind," sê van Staden.

 

 

                                       

 

 

 

 

 

PhilipVanStaden

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!