VF Plus dien klagte by Kaapstad-sentraal-polisiekantoor in teen Julius Malema

2022-10-27
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus het vandag klagte by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor ingedien teen Julius Malema, leier van die EFF, oor uitlatings wat hy onlangs gemaak het op ’n EFF-konferensie in Kaapstad.

Op videomateriaal van die toespraak kan duidelik gehoor word hoe Malema mense aanhits om ’n persoon te vermoor wat glo EFF-lede tydens ’n optog by die Hoërskool Brackenfell aangerand het.

Volgens die video-opname het hy onder meer aan die EFF-lede gesê:

“Jy moenie bang wees om dood te maak nie. ’n Revolusie vereis in ’n stadium dat daar doodgemaak moet word want dit is deel van revolusionêre optrede.”

Dit is niks anders as aanstigting tot geweld en moord nie.

Malema oortree ook die Wet op Oproerige Byeenkomste wat ’n strafregtelike misdryf daarstel wanneer mense aangehits word om geweld of enige ander misdaad te pleeg.

Die VF Plus het reeds ’n klag van haatspraak en aanhitsing tot geweld ingedien by die Menseregtekommissie (MRK). Die MRK het te kenne gegee dat hy die aangeleentheid ondersoek.

Julius Malema moet verstaan Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie en almal is onderhewig aan die land se wette.

Hy moet ook daarvan kennis neem dat hy nie net kan maak en doen en sê wat hy wil sonder dat daar gevolge is nie. Die tyd het aangebreek dat daar teen hom opgetree word.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!