VF Plus bepleit lank reeds huidige inperkingsmodel maar sekere maatreëls is nie rasioneel

2020-12-14
Die Redaksie

"Die ANC-regering volg eindelik die inperkingsmodel wat die VF Plus voorstaan om die verspreiding van die Covid-19-virus asook ekonomiese skade te beperk," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die aankondiging kon nogtans vroeër gewees het aangesien miljoene mense reeds hul vakansiereëlings getref het.

"Die VF Plus se siening oor Covid-19 was deurentyd dat ‘n gedifferensieerde benadering tot inperking gevolg moet word, dat die nodige gesondheidsprotokolle streng toegepas moet word en dat ‘n volstrekte grendelstaat onnodig is.

"Die ANC-regering se totale inperkingsmodel het onnodige skade aan die ekonomie aangerig wat groot werksverlies tot gevolg gehad het.

"Dit is ‘n realiteit dat die virus versprei en dat ‘n tweede vlaag van besmetting besig is om plaas te vind.

 

"Die totale sluiting van strande in die Oos-Kaap en die Tuinroete in hierdie laat stadium van die feesseisoen is irrasioneel. Soos in KwaZulu-Natal kon dit net op sekere tradisionele besige dae gesluit word."

 

"Die aankondiging gaan ook groot ontwrigting vir baie vakansiegangers veroorsaak. Die verbod van alkohol op strande word wel verwelkom en is ‘n rasionele besluit.

"Dit maak egter nie sin dat sifting by lughawens nie meer gedoen word nie.

"Die VF Plus stem nie daarmee saam dat hierdie gebruik om persoonlike inligting in te win en sifting te doen gestaak is juis kort voor die feesseisoen nie.

"Die Covid-19-virus is 'n realiteit wat lewens eis en daarom moet die nodige gesondheidsmaatreëls en -protokolle toegepas word. Dit moet egter in balans met die ekonomie en mense se voortbestaan gedoen word," sê Groenewald.

DrPieterGroenewaldCovid19Feestyd

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!