VF Plus bekommerd oor doeltreffendheid van maatreëls om bek-en-klouseer in Limpopo te bekamp

2020-02-20
Die Redaksie

"Die VF Plus het vandag tydens ‘n vergadering van Limpopo se wetgewerskomitee vir landbou, sy kommer uitgespreek oor die doeltreffendheid van die maatreëls wat in plek is vir die bekamping van bek-en-klouseer in die provinsie," sê Marcelle Maritz, VF Plus-LPW en provinsiale leier in Limpopo.

"Die party het ook ‘n dringende vergadering aangevra met die LUR vir landbou, Nanda Ndalane, om die situasie te bespreek.

"Alhoewel die VF Plus dit verwelkom dat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die verbod op veeveilings gelig het, is die party bekommerd dat daar nie voldoende voorkomende maatreëls in Limpopo in plek is om die verspreiding en ‘n verdere uitbreking van bek-en-klouseer te voorkom nie.

"‘n Groot kopsorg is die tekort aan staatsveeartse en die VF Plus eis dat die departement van landbou so gou doenlik veeartse aanstel en die stelsel verbeter. Die departement moet ook seker maak dat die land se rooisones en landsgrense beveilig word om te voorkom dat besmette diere met gesonde diere in aanraking kom. Die tekort aan 'n effektiewe spuitstof en die aanwending van die beskikbare entstof is ook uiters kommerwekkend.

"Die VF Plus wil ook ‘n beroep op veeboere (kommersieel, opkomend en kleinskaal) in die provinsie doen om self verantwoordelikheid te neem en toe te sien dat hul vee gereeld ondersoek word vir die siekte, ingeënt word soos voorgeskryf deur die departement van landbou en om die nodige gesondheidsklarings te bekom voor veeveilings.

"Rooivleis-produsente het geweldige finansiële verliese gely na die verbod op die vervoer van vee en veeveilings. Die party wil toesien dat boere nie onder meer finansiële druk geplaas word weens nog ‘n uitbreking van die bek-en-klouseer nie," sê Maritz.

MarcelleMaritzLimpopoBek-en-klouseer

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!