VF Plus-aksie om BLF te deregistreer, duur voort

2019-04-04
Die Redaksie

Die regsaksie van die VF Plus om die BLF as politieke party te deregistreer duur voort, al het die party op 29 Maart sy aansoek in die Kieshof om dié party te deregistreer, vir eers weens ʼn tegniese rede teruggetrek.

'n Appèlaansoek is nou in die plek daarvan by die verkiesingskommissie aanhangig gemaak om die BLF te stuit.

"Die VF Plus meen die meriete van die saak is sterk aangesien die Wet op die Verkiesingskommissie die hoofverkiesingsbeampte verbied om 'n politieke party te registreer wat lidmaatskap uitsluit op grond van ras, etnisiteit of velkleur," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Groenewald sê daar is egter 'n tegniese juridiese argument wat die saak mag kelder.

Daarom het die VF Plus eerder nou 'n appèl by die kommissie aanhangig gemaak en hom sewe dae gegee om daaroor te besluit.

Die VF Plus sal afhangende van die uitkoms van dié appèl, of indien die kommissie sloer met 'n besluit in hierdie verband, die aansoek weer op 'n dringende basis by die Kieshof in Bloemfontein bring.

Die verkiesingstydlyn vir die komende verkiesing noodsaak die kommissie om so gou moontlik 'n besluit oor die appèl te maak.

"Die VF Plus het reeds op 17 Januarie vanjaar die aangeleentheid onder die aandag van die hoofverkiesingsbeampte gebring. Die OVK het egter eers op 13 Maart geantwoord op die VF Plus se skrywes in hierdie verband.

"Dit het toe eers aan die lig gekom dat die grondwet van die BLF, soos ingedien by die hoofverkiesingsbeampte, dieselfde is as die een wat op hul webwerf verskyn en wat lidmaatskap op grond van ras uitsluit.

"Die VF Plus sal nie opgee in die stryd teen die BLF se rassisme en rassepolarisasie nie. Die minagting van Suid-Afrika se Grondwet en die wetgewing wat verkiesings, rig mag nie geduld word nie," sê Groenewald.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!