Verwikkelinge by Necsa is kommerwekkend

2020-01-15
Die Redaksie

"Teenstrydige berigte rakende die raad van die Suid-Afrikaanse kernkragkorporasie, Necsa, is 'n slegte teken vir 'n land waar energievoorsiening reeds onstabiel is," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van minerale hulpbronne en energie.

"Necsa het die voormalige Atoom Energiekorporasie (AEK) vervang. Die AEK, wat in die jare sestig in die lewe geroep is, het Suid-Afrika as 'n kernmoondheid gevestig, met die vermoë om kernkrag vir vreedsame, sowel as militêre doeleindes aan te wend.

"Die Koeberg-kragsentrale, wat grootliks vir kragvoorsiening in die Wes-Kaap verantwoordelik is, is een van die uitvloeisels daarvan.

"Sedert die omvorming tot Necsa in 1999 is dié openbare onderneming verantwoordelik vir die produksie van Molibdeen-99 isotope wat in kerngeneeskunde (in die stryd teen kanker) aangewend word, asook vir die verryking van uraan vir die Koeberg-kragsentrale en die veilige berging van Koeberg se afval.

 

"Teen hierdie agtergrond is die onstabiliteit in bestuur en oorsig wat reeds vir jare by Necsa voorkom, 'n groot bron van kommer."

 

"In Augustus 2019 is berig dat die organisasie in sewe maande ses hoof uitvoerende beamptes en twee voorsitters gehad het. Dit was nadat die hooggeregshof die skorsing van twee raadslede deur oud-minister Jeff Radebe in 2018 as onregmatig verklaar het. Hulle is egter nie in hul posisies herstel nie, omdat hul termyne intussen verstryk het.

"In die jongste woelinge is berig dat die oorblywende drie raadslede gesamentlik bedank het. 'n Mediahuis het selfs berig dat hulle die brief gesien het, maar die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, ontken dat hy dit ontvang het.

"Hy stel egter dat hy nie in hul pad sal staan indien hulle wel wil bedank nie. Dit sal beteken dat Necsa geen raad en ook nie 'n permanente uitvoerende beampte het nie.

 

"Die mediese produkte wat deur die Necsa-filiaal Nuclear Technology Products (NTP) vervaardig word, is 'n belangrike verdiener van buitelandse valuta. Daarom is probleme in hierdie deel van die onderneming, skadelik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie."

 

"Brandstof vir Koeberg en die veilige wegdoening daarvan, is egter in 'n heel ander kategorie. Probleme in hierdie verband kan Suid-Afrika op sy knieë bring. Dit kan geldige en permanente wantroue in Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming tot gevolg hê.

"Die VF Plus doen 'n beroep op minister Mantashe om dringend in te gryp. In die herstel van Necsa se beheer- en bestuurstrukture moet tegniese kundigheid en vaardighede die botoon voer. Kaderontplooiing kan in hierdie geval vir die land so skadelik as 'n kernbomontploffing wees," sê Boshoff.

DrWynandBoshoffEnergieMineraleHulpbronneNECSA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!