Versoeningsdag: Erken die kulturele reg van die Afrikaner

2019-12-16
Dr Pieter Groenewald

"Die Handves van Regte in die Grondwet van Suid-Afrika erken die reg van gemeenskappe en individue om hulle kultuur te beoefen en uit te leef. Die jaarlikse herdenking van die 1838-Gelofte as Geloftedag deur Afrikaners is ‘n grondwetlike reg," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Versoeningsdag en die jaarlikse herdenking van die 1838-Gelofte staan nie teenoor mekaar nie. Dit is ’n fout om Afrikaners te probeer dwing om tussen die twee te kies. Die meeste mense in Suid-Afrika soek vrede en ’n veilige toekoms vir hulle kinders. Afrikaners het ʼn grondwetlike reg om hul kultuur en erfenis te herdenk en uit te leef.

 

"Indien versoening in Suid-Afrika beteken dat die verskillende volke en kultuurgroepe dít wat hul eie is moet vernietig en opoffer, is dit nie werklike versoening nie, maar gedwonge assimilasie en kulturele uitwissing."

 

"Suid-Afrika is ʼn multi-kulturele land met elf amptelike tale en dit moet eerbiedig, erken en gerespekteer word.

"Afrikaners het die reg om hulself te wees, as trotse Afrikaners. Die regering doen alles in sy vermoë om die geskiedenis van die Afrikaner verdag te maak en te probeer uitwis. Daar rus dus ook ‘n plig op Afrikaners om die geskiedenis van die Afrikaner aan hulle kinders oor te dra.

"In ’n land met baie tale en kulture moet elkeen trots wees op wie en wat hy of sy is. Indien daardie reg erken word, sal versoening vanself plaasvind in Suid-Afrika.

 

"Indien die Afrikaner-jeug die aanslag kan weerstaan wat daar tans is om die Afrikaner se geskiedenis negatief en eensydig aan te bied ter wille van populisme, is daar hoop vir die Afrikaner se toekoms."

 

"Daar word veldtogte gevoer om Afrikaners en wit mense as misdadigers in hul eie land voor te stel, deur hulle die skuld te gee vir alles wat verkeerd gaan en hulle voor te hou as gronddiewe. Die waarheid is dat Afrikaners oor eeue heen ʼn belangrike rol gespeel het om Suid-Afrika op te bou tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

"Afrikaners kán en moet trots wees op hierdie bydrae van opbou en hoef nie verskonend daarvoor te wees nie. Die land behoort aan al sy inwoners," sê Groenewald.

 

DrPieterGroenewaldGeloftedag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!