Veelparty-koalisie stuit ANC in Johannesburg

2017-12-04
Die Redaksie

Die veelparty-regering in Johannesburg het die ANC Vrydagaand in sy spore gestuit toe hulle ʼn mosie van wantroue teen die burgemeester en speaker suksesvol afgeweer het met die steun van die VF Plus en ander koalisievennote,

Die mosie van wantroue teen die speaker is afgestem met ʼn meerderheid van 20 stemme.

"Dié mislukte mosie van wantroue dek die tafel vir ʼn moontlike veelparty-koalisie in Gauteng"

“Die ANC het alles in die stryd gewerp om die burgemeester, Herman Mashaba, en speaker, Vasco Da Gama, te ontsetel," sê Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburgse metroraad.

“Die ANC het selfs gespog dat 15 koalisielede die ANC-mosie sou steun," sê De Lange.

De Lange sê die mosie is so lank as moontlik uitgerek deur die huidige administrasie te diskrediteer en openlik leuens oor die stad se finansiële posisie te skets.

“Die uiteinde was ANC-raadslede wat die raadsaal stert tussen die bene verlaat het na ʼn uitslag van 140 stemme teen 121 . 

“Dié mislukte mosie van wantroue dek die tafel vir ʼn moontlike veelparty-koalisie in Gauteng na die 2019-algemene verkiesing waarin die VF Plus bereid is om te dien,” sê De Lange.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!