Uitspraak oor Zuma se straf word verwelkom

2022-11-21
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die appèlhof in Bloemfontein dat oudpres. Jacob Zuma se vrylating op mediese parool ongrondwetlik was.

Die party stem hiermee saam. Zuma moet nou terug tronk toe om sy vonnis uit te dien soos wat met elke gewone landsburger sou gebeur.

Tot nou toe het die departement van korrektiewe dienste met sy optrede en mediese parool, ʼn klugspel van Zuma se aanvanklike vonnis van vyftien maande gemaak.

Dit was ’n ondermyning van die land se strafregstelsel en duidelik ʼn poging van Arthur Fraser, vroeër kommissaris van korrektiewe dienste, om Zuma te help om sy straf te ontduik.

Dit is in die belang van regspleging dat ʼn herhaling van die Schabir Shaik-klugspel voorkom word.

Tot nou toe het die optrede van korrektiewe dienste en die departement van justisie ’n netelige presedent oor straffeloosheid geskep.

Dit is Zuma se reg om alle regsremedies tot sy beskikking te gebruik in die saak, maar die standpunt van die VF Plus is dat hy ná hierdie uitspraak sy volle vonnis moet uitdien.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!