Tussenverkiesings wys nuwe politieke speelvlak het aangebreek

2019-11-28
Dr Pieter Groenewald

"Die tussenverkiesing gister in Thabazimbi in die Limpopo-provinsie herbevestig onteenseglik dat ʼn nuwe tydvak in Suid-Afrikaanse politiek aangebreek het. Die VF Plus gaan voort om sy uitstaande groei sedert die 2016-plaaslike verkiesing gehandhaaf en daarop voort te bou," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

 

Die VF Plus se steun in Thabazimbi het gegroei van 7% in 2016 tot die huidige 28,43% . Dit verteenwoordig groei van meer as 21%. Die DA het gesak van 58% in 2016 tot 33,58%. Dit is ʼn inkrimping van meer as 24%.

 

"Dit bevestig ook die patroon van onlangse tussenverkiesings in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. In Noordwes het die VF Plus twee wyke van die DA verower.

 

"In Julie het die VF Plus die tussenverkiesing op Stilfontein gewen met 56% van die stemme en ʼn groei van 34%. Die DA se seun het met 35% gedaal."

 

In September in die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom) het die VF Plus die wyk gewen met ʼn styging van 53% in stemme sedert 2016 terwyl die DA 65% van sy stemme sedert 2016 verloor het.

In Augustus in Wyk 15 in die Ekurhuleni-metro het die VF Plus se steun van 3% in 2016 gegroei tot 30.22%. Die DA se steun het van 88.46% tot 63.79% gedaal.

Verlede maand op Bethal (Wyk 28, Govan Mbeki-munisipaliteit) het die VF Plus se steun gegroei van 4,31% tot 35,4%. Die aantal stemme vir die DA het gesak van 45% tot 26,2%.

Ook verlede maand in Wyk 12 op Lydenburg (Thaba Chweu-munisipaliteit) het die VF Plus gegroei vanaf 8,35% in 2016 tot 32,7%. Die DA se steun het afgeneem van 81,1% tot 48,49%.

 

"Die duidelike boodskap hierin is dat daar tans nie ʼn enkele party is wat landwyd ʼn bedreiging is vir die ANC nie en dat die VF Plus hom nou gevestig het as een van die groot opposisiepartye en rolspelers in die Suid-Afrikaanse politiek."

 

"Die tyd het aangebreek dat kiesers eenvormig moet stem vir ʼn party wat hul norme waardes verteenwoordig en daadwerklike oplossings bied. Dit is veral belangrik met die oog op die plaaslike verkiesing in 2021," sê Groenewald.

 

TussenverkiesingsDrPieterGroenewald

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!