Toename in plaasaanvalle – strafmaatreëls ontoereikend

2017-10-23
Jan van Niekerk

Die mees onlangse plaasaanval buite Jagersfontein in die Vrystaat, waartydens Kyle Stols (22) vermoor is, bewys dat die regering se landelike beveiligingsplan faal en die strafmaatreëls wat op hierdie misdadigers toegepas word, nie ʼn voldoende afskrikmiddel is nie, sê Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat.

“Buiten die feit dat misdaad oor die algemeen en plaasaanvalle in besonder deur die VF Plus en ander organisasies onder die aandag van die internasionale gemeenskap gebring word, sal alle plaaslike burgerlike organisasies, politieke partye en ander belangegroepe moet hande vat om hierdie reuse probleem daadwerklik aan te spreek. Daar word letterlik jag gemaak op ons landbougemeenskap. Dit is ʼn bose en onaanvaarbare stand van sake.

“Die VF Plus is in die proses om samesprekings met sleutelorganisasies in die landboubedryf te hou ten einde boere en hul werknemers te help deur die nodige bystand te bied sodat hul hulself weerbaar kan maak teen sodanige boosdoeners. Die inisiatief sluit onder meer selfverdedigingsklasse in.

“Boere, hul gesinne en werknemers moet paraat wees. Hierdie booswigte hou gewoonlik hul teikens vir ʼn geruime tyd dop voordat hulle toeslaan. Hulle is voorbereid op wat kom, terwyl die slagoffers niksvermoedend aangeval word.

“Die landbougemeenskap moet in staat gestel word om ook in ʼn oomblik te kan reageer om hulself binne die perke van die wet te verdedig,” sê Van Niekerk

“Die VF Plus spreek sy medelye uit met Kyle se geliefdes in hierdie moeilike tyd en sal alle moontlike druk op die polisie uitoefen om te verseker dat sy moordenaars so spoedig moontlik gevang en uit die samelewing verwyder word,” sê Van Niekerk.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!