Terreur-waarskuwing van Amerika en Brittanje kan nie ligtelik opgeneem word nie

2022-10-27
Dr Pieter Groenewald

Daar moet kennis geneem word van die waarskuwings van Amerika en Brittanje oor moontlike terreur in die Sandton-omgewing in die komende naweek.

Ek het deur direkte navraag vasgestel dat die waarskuwing van die Amerikaanse ambassade, wat later deur Brittanje beaam is, wel eg is.

Daar is inderdaad ’n groot saamtrek in Sandton oor die naweek en mense moet self oordeel of hulle dit wil bywoon of nie.

Die reaksie van die Suid-Afrikaanse regering se Staatsveiligheidsagentskap (SVA) hierop is dat geen bewyse vir die waarskuwings bestaan nie en dat hy die publiek betyds sal inlig indien daar wel bewyse gevind word.

Hierdie reaksie wil dit laak blyk dat die waarskuwing van die Amerikaners en die Britte nie te ernstig opgeneem moet word nie.

Die VF Plus se mening is dat daar veel eerder ag geslaan moet word op die veiligheidstrukture van Amerika en Brittanje as op die SVA wat nie eens die reuse onluste van verlede jaar voorsien het nie.

Die publiek moet nogtans seker maak dat hulle altyd omsien na hul eie veiligheid en self moet oordeel of hulle bereid is om ag te slaan op waarskuwings soos hierdie al dan nie.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!