Staat se prioriteite oor besteding van inkomste en ekonomiese groei is verkeerd

2021-11-30
Wouter Wessels

(Parlementêre debat: Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Staatsinkomste)

Die Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Staatsinkomste dien as bewys van die regering se verkeerde prioriteite aangesien geen ekonomie kan groei of floreer terwyl plaaslike regering vernietig word met stede en dorpe wat nie water of krag het nie en infrastruktuur wat verval.

Dié wetsontwerp laat meer geld na die nasionale regering vloei wat ’n aanduiding is van die ideologiese kortsigheid van die ANC.

Die ANC wil mag en beheer sentreer in die nasionale regering terwyl plaaslike regering die meeste van die geld afhanklik is; daarna provinsies en dan op nasionale vlak. Die staat se magte op nasionale vlak moet eerder afgeskaal word.

Ter voorbeeld kan die Mangaung-metro genoem word wat onder ANC-regering staan en waar die inwoners onlangs sewe dae sonder water was. Hier skuld die metro Bloemwater meer as R720 miljoen terwyl die provinsiale ANC-regering op sy beurt die metro meer as R700 miljoen skuld.

Dit is ’n tipiese voorbeeld van onbevoegde en onverantwoordelike regering waar die ANC in beheer is.

Nog ’n voorbeeld van verkeerde ANC-prioriteite is waar die staat R1,446 miljard gaan gebruik om 32 000 werksgeleenthede te skep. Die staat kan nie toenemend werk skep terwyl hy die private sektor vernietig nie. Dit is nie volhoubaar nie.

Hierdie werkgeleenthede is tydelik van aard. Dit is selfs onder die minimumloon terwyl groot druk op die private sektor geplaas word om wel die minimumloon te betaal. Tydelike werk deur regeringsprojekte gaan nie die ekonomie laat herstel nie.

Dit sal eerder gebeur deur die geld te bestee aan infrastruktuur, maar ook hier misluk die ANC klaaglik soos gesien word met die onderbesteding van voorwaardelike toekennings. ’n Voorbeeld hiervan is die geld wat toegeken is om die Vaalrivier skoon te maak. Dit is onderbestee en word in hierdie begroting opnuut as prioriteit gelys.

Dit is onbegryplik dat infrastruktuur afgeskeep word terwyl geld bestee gaan word aan mislukte staatsondernemings en werkskepping wat tydelik van aard is. Volhoubare werkskepping sal net plaasvind deur die private sektor te help groei en ontwikkel.

Hiermee saam moet toegesien word dat munisipaliteite hul skuld aan waterrade en Eskom vereffen. Dit sal ’n goeie begin wees om plaaslike regering op die pad na herstel te plaas.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!