Speaker moet selfs meer doen om orde te handhaaf in parlement

2023-03-23
Dr Pieter Groenewald

(Debat in parlement: Mosie van wantroue in die speaker van die Nasionale Vergadering )

Die speaker van die parlement se Nasionale Vergadering (NV) moet meer doen om die waardigheid van die parlement te beskerm, al beteken dit dat lede wat hulle wangedra, swaar beboet word deur die verbeuring van hul salarisse.

Daar moet ook verstaan word dat die polisie se beskermingseenheid nie die persoon Cyril Ramaphosa beskerm nie, maar die aangewese president van die land.

Wanneer die huidige president ná die verkiesing aanstaande jaar met ’n ander persoon vervang word, sal hul lojaliteit dus steeds by die amp lê en nie by die persoon nie.

Die voorval van 9 Februarie vanjaar toe lede van die EFF die NV se verhoog bestorm het, het ’n direkte gevaar vir die president geskep en die lede van die beskermingsdiens het dadelik ingegryp om hom te beskerm.

Die leier van die DA het direk ná die gebeure kritiek uitgespreek oor die optrede van die beskermingsdiens se lede. Ek het hul optrede geprys.

Die eenheid het reg opgetree. Dit het gewys hulle is behoorlik opgelei deur die situasie onmiddellik reg op te som en nie eers te wag op ’n opdrag van die speaker om ’n potensieel gevaarlike situasie te ontlont nie.

Wat in die parlement as hoogste wetgewer in die land gebeur, stel ’n voorbeeld aan almal in die land. Ook hoe meningsverskille onderling besleg word.

Die vraag moet gevra word of hierdie voorbeeld navolgingswaardig is of nie. Op 9 Februarie is geweld gebruik soos dit gereeld gebeur.

Parlementslede sal die publiek nooit oortuig dat geslaggeweld verkeerd is as hulle self gereeld geweld gebruik om argumente te besleg nie.

Parlementêre reëls maak die boelie-taktiek tans moontlik en die speaker moet sorg dat dit verander. Daar moet streng reëls wees om mense af te skrik om die waardigheid van die NV aan te tas.

 

DrPieterGroenewald#Mosievanwantroue

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!