SOE-verslag oor Covid-bedrog lyk na oortjies van die seekoei

2022-01-25
Dr Pieter Groenewald

Die verslag van die SOE wat aantoon dat daar onreëlmatighede betrokke was by sowat twee derdes van die 4 549 afgehandelde sake wat die eenheid ondersoek het, is waarskynlik net die oortjies van die seekoei in ’n veel groter bedrogspul.

Die SOE het 5 467 sake ondersoek van tenders wat aan 3 066 kontrakteurs toegeken is. Luidens die verslag moet R551,5 miljoen van die geld verhaal word. Slegs R34,2 miljoen is tot dusver teruggekry.

Hierdie bedrae klink onbenullig teenoor bedrae wat voorheen genoem is in ander beramings oor die omvang van Covid-19-bedrog. Die SOE self het al in Oktober 2020 in ’n voorlegging aan die parlement gesê dat bedrog met slegs die tydelike verligtingskema Covid-19-Ters sowat R985 miljoen kan beloop.

Ek het reeds in 2019 met pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat R500 miljard aangewend sou word as pandemieverligting, aan die president gevra watter voorsorgmaatreëls hy sou tref om korrupsie te voorkom.

Hy het onderneem om stappe te neem en het onder meer die ouditeur-generaal (OG) opdrag gegee om meganismes in plek te stel om ongerymdhede te voorkom.

Hierdie verslag van die SOE maak dit duidelik dat pres. Ramaphosa òf nie sy onderneming gestand gedoen het nie, òf dat die OG nie sy opdrag behoorlik uitgevoer het nie.

Die wyd algemene vermoede is dat miljarde rande se bedrog plaasgevind het met die fondse en die SOE se huidige raming klink nie oortuigend nie.

Dit boesem nie vertroue in by die publiek nie en daar sal drasties opgetree moet word om die saak met veel groter deeglikheid te ondersoek.

Daar moet op die strengste wyse moontlik teen oortreders opgetree word en hulle moet swaar strawwe opgelê word om as voorbeeld te dien dat korrupsie nie geduld sal word nie.

Indien dit nie gebeur nie, sal dit net nog ’n voorbeeld wees waar pres. Ramaphosa bloot lippediens lewer aan die mense van Suid-Afrika en dat die ANC steeds toelaat dat kaders hulself verryk ten koste van die belastingbetalers.

SOEDrPieterGroenewaldCovid19Tenderbedrog

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!