Skorsings: Gautengse LUR vir plaaslike regering tree buite sy magte op

2020-01-23
Die Redaksie

"Die Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, tree buite orde op deur die voormalige speaker van die Johannesburgse metroraad, Vasco da Gama, en die speaker van die Tshwane-metroraad, Katlego Mathebe, vir ses maande sonder betaling te skors," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en provinsiale leier in Gauteng.

"Maile het die reëls van natuurlike geregtigheid oortree, soos vervat in artikel 7 van die Munisipale Stelselwet deur nie eers ‘n ondersoek te gelas nadat die remedies binne die onderskeie metrorade uitgeput is nie. Daar is slegs briefwisseling gevoer.

 

"Die VF Plus wil by die LUR weet waarom hy nie eweneens by die Mogale City-munisipaliteit ingryp waar die pas afgestorwe burgemeester, Patrick Lepudi, reeds sedert 2017 op ‘n ongrondwetlike wyse die burgemeesterstoel beklee het nie en die raad sonder ‘n geproklameerde reglement van orde funksioneer."

 

"Die LUR is besig om van plaaslike regering ‘n partypolitieke speelbal te maak deur slegs in te gryp by munisipale rade waar die ANC nie die meerderheid steun geniet nie. Sy optrede is roekeloos en ‘n oortreding van sy eie etiese gedragskode as uitvoerende amptenaar. Hy skep ‘n presedent wat dienslewering ‘n gevoelige nekslag gaan toedien.

"Die VF Plus as voormalige koalisievennoot in Mogale City en Johannesburg en steeds in die Tshwane-metro, gaan druk op die LUR plaas om binne die reëls van natuurlike geregtigheid op te tree en ‘n ondersoek teen hom begin," sê Mulder.

 

 

JacoMulderGautengsamewerkenderegering

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!