Skole, universiteite en kolleges wat kan, moet so vinnig moontlik heropen

2020-04-29
Die Redaksie

"Planne om die totale onderwys- en opvoedingsektor in Suid-Afrika geleidelik te heropen, is verlede week deur die departement van hoër onderwys en vandag deur die departement van basiese onderwys bekend gemaak. Die VF Plus beywer hom daarvoor dat formele opvoeding so gou as wat medies verantwoordelik is, hervat moet word," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese- en hoër onderwys, wetenskap en innovasie.

"In die naskoolse onderwyssektor beveel die departement van hoër onderwys aan dat universiteite op 4 Mei met aanlynonderrig begin. Daar word ook voorgestel dat studente wat van werkswinkels en laboratoria afhanklik is vir hulle onderrig, eerste op kampusse terug verwelkom word.

 

"In skole is die aanbeveling dat onderwysers op 4 Mei begin werk en dat die onderskeie grade dan ingefaseer word, elke twee weke twee grade by. Al hierdie voorstelle stippel vereistes uit rakende sosiale afstand, ontsmetting en kwarantyn vir individue wat positief getoets is."

 

"Uit voorleggings aan die hoër-onderwyskomitee en reaksies tydens albei komiteevergaderings, blyk 'n lae vlak van vertroue oor die navolging van hierdie maatreëls regdeur die stelsel. Daarom is daar in sekere kringe 'n standpunt dat onderwys op alle vlakke eers heropen moet word wanneer alle instellings daarvoor gereed is. Die VF Plus verwerp hierdie benadering.

"Terwyl dit gebiedend noodsaaklik is om geleenthede te skep vir studente en skoliere wat agter raak om in te haal, kan die tempo van vordering nie deur die instellings of persone wat die swakste voorbereid is, bepaal word nie. Dit klink na nog 'n erfenis uit die ANC se stryd om die mag te verkry, toe "Pass One, Pass All" 'n gewilde strydkreet was.

"In die naspel van die huidige pandemie sal die hele wêreld die meeste kundigheid op die hoogste moontlike vlak benodig om te herstel. Daarom kan die studies van diegene wat in die proses is om dit voort te sit, nie ter wille van uitgediende sosialistiese denkbeelde vertraag word nie."

"Die VF Plus beywer hom juis vir 'n staatsbedeling waar besluitneming na die laagste moontlike vlak afgewentel word. Dit is immers sinneloos dat die ekonomie tot stilstand gebring word waar die koronavirus afwesig is net omdat dit elders ernstig is; of dat sekere skole, kolleges of universiteite gesluit bly omdat ander nie in staat is om die krisis te hanteer nie.

"Daarom steun die VF Plus die geleidelike oopstelling van onderwysinstellings en hou vol dat dit in sekere gevalle selfs versnel kan word," sê Boshoff.

DrWynandBoshoffOnderwysWetenskap#Covid19SA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!