Skokkende aantal myne sonder waterlisiensies skep groot risiko vir ekologiese ramp

2019-04-20
Die Redaksie

Die VF Plus het in antwoord op ʼn parlementêre vraag aan die minister van water en sanitasie met skok kennis geneem dat ‘n totaal van 118 myne uit 712 wat waterlisensies het, nie aan hul lisensievoorwaardes voldoen nie en dat 115 myne tans aktief is sonder enige waterlisensie.

"Hierdie stand van sake is skokkend en wys enersyds daarop dat myne argeloos voortgaan om die omgewing te besoedel en andersyds dat die waterlisensie-stelsel nie na behore werk nie," sê adv Anton Alberts, VF Plus-LP en partyvoorsitter.

Verdere belangrike bevindings uit die antwoorde van die minister oor die aangeleentheid, is die volgende: 

  • Talle van die bekendste mynmaatskappye maak hulle skuldig aan beide die verbreking van hul lisensievoorwaardes en mynbedrywighede vind plaas sonder enige waterlisensie.

 

  • Meeste van die maatskappye wat sonder ʼn waterlisensie myn, kom voor in Mpumalanga (41) wat korreleer met die geweldige omgewingsbesoedeling wat tans in daardie provinsie ervaar word. Dit laat die vermoede ontstaan dat baie mynlisensies gegee word deur kortpaaie te neem sodat munt geslaan kan word uit Eskom se behoefte aan steenkool in die omgewing. Dit verdien ‘n dieper ondersoek.

 

  • Die tweede meeste mynaktiwiteite sonder waterlisensies kom voor in Gauteng (12).

 

  • Die Guptas se Shiva Uranium-myn voldoen ook nie aan sy waterlisensie-voorwaardes nie.

 

  • Gegewe die skrikwekkende omvang van die van die verkryging van waterlisensies en die verbreking van waterlisensie-voorwaardes, kan die vraag gevra word wat dit vir die toekoms van die omgewing inhou. Die Nasionale Waterwet word eenvoudig geïgnoreer of willens en wetens verbreek.

 

"Die departement se polisiëringsaksies teen die myne is meestal administratief van aard en dit is tyd dat strafregtelik teen die myne opgetree word.

"Die VF Plus gaan die bevindinge aan die Blou Skerpioene voorlê vir ondersoek en verdere optrede. Indien daar nie enige reaksie is nie, sal die inligting aan die Valke gegee word vir optrede.

"Die VF Plus glo dat mynaktiwiteite in balans met die omgewing moet plaasvind, dat mynlisensies nie onnodig gegee moet word nie, en dat diegene wat die omgewing besoedel, tronkstraf moet kry.

"Die VF Plus sal terugslaan ten einde te sorg ons omgewing en ekostelsels voldoende beskerm word," sê Alberts.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!