Skandalig hoe mense in kwarantyngebiede moet tuisgaan

2020-04-30
Die Redaksie

"Die VF Plus spreek sy skok en afgryse uit oor die haglike kwarantyn-omstandighede waaronder mense wat vanaf buurstate in Suid-Afrika aankom, vir veertien dae moet tuisgaan," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordwoerder van gesondheid.

"Dit is niks minder nie as skandalig hoe die Suid-Afrikaanse regering hierdie mense – baie van hulle Suid-Afrikaanse burgers – hanteer. Die tonele wat na bewering van die Zithabiseni-konferensiesentrum naby Groblersdal in Mpumalanga is wat gister in die media verskyn het, is haglik en onbewoonbaar.

 

"Net soos by die ander fasiliteite waaroor die VF Plus die afgelope maand klagtes ontvang het, ontbreek algemene higiëne, skoon water, badkamergeriewe en selfs elektrisiteit."

 

"Dit is ‘n skande hoe die kwarantyngeriewe lyk en dit is onaanvaarbaar dat die departement van gesondheid en openbare werke en infrastruktuur dit beskikbaar gestel het vir hierdie doel. Daar moet nou duidelikheid gegee word oor al hierdie geriewe sodat behoorlike oorsig daaroor gedoen kan word.

"Die jongste tonele maak dit duidelik dat geen inspeksies vooraf deur die betrokke departemente gedoen is nie. Hoe die kontrakte met hierdie instansies onderteken is, sal ondersoek moet word," sê van Staden.

PhilipVanStadenGesondheid#Covid19SAKwarantynGeriewe

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!