Sewe jaar se volharding bring herstel van sinkgat op N12

2023-01-23
Michal Groenewald

Die VF Plus verwelkom die feit dat herstelwerk aan die sinkgat op die N12-hoofweg by Stilfontein in Noordwes eersdaags sal begin.

Die kontrakteur, Ultimate Dynamic Stilfontein, het die VF Plus ingelig dat die kontraktuele prosedures afgehandel is en die kontrak aan die maatskappy toegeken is.

Die herstelwerk volg na jarelange volharding van die VF Plus om die kwessie op alle regeringsvlakke op die agenda te hou.

Die sinkgat het reeds in Desember 2015 reg langs die hoofweg by ʼn reservoir ontstaan. Die verkeer op hierdie hoofroete is ernstig ontwrig en moes vir ʼn lang tydperk heeltemal herlei word totdat die gebied gestabiliseer is.

Die pad is toe weer gedeeltelik oopgestel vir verkeer, maar geen verdere herstelwerk is tot op hede gedoen nie.

Die VF Plus het deurentyd volgehou om druk op die nasionale departement van vervoer, Noordwes se provinsiale regering en die Matlosana-plaaslike munisipaliteit toe te pas om die pad te laat herstel en die omliggende gebiede te beveilig.

Die feit dat dit sewe jaar geneem het om met sulke belangrike herstelwerk aan ʼn nasionale hoofroete te begin, is tekenend van ʼn ANC -regering wat weens ʼn gebrek aan kundigheid en ʼn skynbare onvermoë om in die belang van die land te prioritiseer, die land se ekonomie ontwrig tot nadeel van alle Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika verdien beter as die ANC.

MichalGroenewaldStilfontein-sinkgat

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!