Ruk bestaande hospitaal-infrastruktuur reg voordat ambisieuse planne soos NGV oorweeg word (Ledeverklaring in die parlement)

2019-09-17
Die Redaksie

"Die onlangse brande by verskeie hospitale regoor Suid-Afrika onderstreep die feit dat infrastruktuur by mediese instellings dringende aandag vereis en dat ambisieuse planne soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is tot mislukking indien die huidige instellings nie eens in stand gehou kan word nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.

"Net verlede Vrydag (13 September) het nie minder nie as drie brande by drie hospitale regoor Suid-Afrika uitgebreek wat groot skade aangerig het.

"Die eerste brand was by die Mitchells Plain-daghospitaal, die tweede by die Bram Fischer Internasionale lughawe-hospitaal in Bloemfontein en die derde by die Tygerberg-hospitaal.

"Dit was etlike dae nadat die VF Plus in die parlement aan die minister van gesondheid (Zweli Mkhize) gevra het waarom elf staatshospitale in Gauteng nie hul veiligheidsoudits kon slaag nie. Die minister kon nie op die vraag antwoord nie.

 

"Die VF Plus herhaal sy standpunt dat die infrastruktuur van staatshospitale en klinieke eers opgegradeer en lewensvatbaar gemaak moet word voordat die regering daaraan kan dink om die NVG in te stel."

 

"Die VF Plus spreek die hoop uit dat daar dringend aandag gegee sal word aan die infrastruktuur van alle staatshospitale en klinieke regdeur Suid-Afrika en dat die oorsaak van die brande spoedig bekend gemaak sal word," sê van Staden.

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!