Die terugtrekking van die vrystelling wat aan Eskom verleen is oor die rapportering van wanbesteding, wys duidelik dat die besluit in die eerste plek ondeurdag was en oorhaastig geneem is.
Benewens die aanvanklike publisering van die vrystelling verlede Vrydag in die Staatskoerant, was die kommunikasie daaroor deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, uiters swak.
Dit het bygedra tot die rooi vlae wat oor die aangeleentheid opgegaan het. Dit was duidelik dat die gevolge van die vrystelling aan Eskom nie deeglik oorweeg is nie.
Een van die onmiddellike gevolge was ’n negatiewe lig wat op die geloofwaardigheid van die nasionale tesourie en die staat gewerp is oor die eerbaarheid van die besluit.
Die doelwit daarvan, om Eskom se finansiële state beter te laat lyk, is totaal ondermyn deur die feit dat daar nou juis groter agterdog geskep is oor Eskom se finansies.
Gegewe die ANC se rekord was dit onvermydelik dat ’n besluit soos hierdie groot agterdog en selfs paniek by die publiek sou veroorsaak.
Dit maak dit duidelik dat belastingbetalers toenemend aandring op deursigtigheid en dat selfs welmenende besluite van die regering met groot agterdog bejeën sal word.
Die VF Plus veroordeel die besluit en die onsekerheid wat dit veroorsaak het, ten sterkste.
Dit is duidelik dat die minister hom deur verkeerde advies laat lei het en oorhaastig die besluit geneem het.
Die sterk openbare reaksie op die aangeleentheid het duidelik gewys dat die publiek die ANC glad nie meer vertrou nie en ’n weerstand ontwikkel het teen enigiets wat lyk na ’n poging om korrupsie toe te smeer.