Respek en dissipline as vertrekpunt nodig om geslagsgeweld te bestry (Parlementêre presidentsdebat: Geslagsgeweld)

2019-09-18
Die Redaksie

"ʼn Gebrek aan wedersydse respek en dissipline is die grondoorsake van geslagsgeweld in Suid-Afrika. Bykomende faktore soos onbevoegdheid en korrupsie in die polisie en die strafregstelsel het die probleem endemies gemaak," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die VF Plus het sedert president Cyril Ramaphosa se eerste staatsrede gesê daar rus ʼn verpligting op die president van die land ten opsigte van nasiebou. Nogtans ervaar die Afrikaner sedert 1994 onderdrukking in die land weens ʼn verskeidenheid redes soos die ondermyning van sy taal.

"Die rede waarom dit gebeur, en wat aansluit by die probleem van geslagsgeweld, is ʼn gebrek aan respek. Daar is ʼn afwesigheid aan selfrespek, respek vir mekaar en mekaar se verskille.

"Die jongste misdaadsyfers rakende moord wys die hoofrede vir gesinsgeweld en -moord in Suid-Afrika is meningsverskille en argumente. Dit laat die vraag ontstaan watter voorbeeld die parlement van Suid-Afrika vir die publiek stel oor hoe om meningsverskille te besleg.

 

"Wat die strafregstelsel aanbetref, is dit duidelik dat misdadigers geen ontsag het vir die polisie, die howe of korrektiewe dienste nie. Dit het die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat. Die rede hiervoor is hoofsaaklik korrupsie."

 

"Dit is bekend hoe omkoopbaar polisielede, aanklaers en landdroste is. Wanneer ʼn persoon eindelik in die gevangenis beland, bring dit ook nie ʼn einde aan sy misdadigheid nie. Dan pleeg hy of sy misdaad vanuit ʼn beskermde posisie.

"Saam met korrupsie sal daar ook daadwerklik opgetree moet word om van die slegte appels in die strafregstelsel ontslae te raak.

 

"Een voorstel oor hoe om die diens van die polisie te verbeter, is die terugbring van spesialis-eenhede, veral vir geweldsmisdaad. ʼn Eenheid soos die voormalige moord-en-roofeenheid wat geweldsmisdaad direk aanspreek, sal ʼn gesindheidsverandering teweeg bring."

 

"Dit is ironies dat daar vandag ʼn hofuitspraak was wat lyfstraf vir kinders tuis verbied. Waar laat dit dissipline en respek? Die VF Plus sê ʼn goeie pak slae op die regte tyd en op die regte wyse, sal respek afdwing en dissipline handhaaf.

"Respek en dissipline moet aangekweek word, nie afgedwing word wanneer dit te laat is nie," sê Groenewald.

PieterGroenewaldGeweldMisdaad

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!