Regte besluit om saak teen Pravin Gordhan te laat vaar

2016-10-31
Dr Pieter Mulder

Die besluit om die saak teen minister Pravin Gordhan te laat vaar was die regte een, maar dit verander nie aan die feit dat die aangeleentheid die kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sy hoof, adv. Shaun Abrahams, in ongeloofwaardigheid gedompel het nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê dit was van meet af aan duidelik dat die saak teen min. Gordhan, Oupa Magashula en Ivan Pillay nie op bona fide-redes gegrond was nie, en adv. Abrahams sal moet bedank om die publiek weer vertroue in die NVG te gee.

“Adv. Abrahams was na die reuse ekonomiese implikasies van Nenegate wel deeglik bewus van die impak wat ʼn besluit om Gordhan te vervolg sou hê. Dit spreek daarom vanself dat hy dubbel seker moes maak daar is ʼn prima facie-saak met genoeg bewyse voordat die besluit geneem is om te vervolg.

“Vanoggend is bewys dat die besluit om te vervolg nie deurdag was nie, wat die indruk verskerp dat die aangeleentheid ʼn politieke dryfveer gehad het,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!