Regering se plan met superstede ‘n resep van rampspoed

2019-06-27
Die Redaksie

"Die regering se plan om superstede in Suid-Afrika te skep is ʼn resep vir rampspoed aangesien die huidige stede en dorpe nie eens in stand gehou kan word nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir infrastruktuur en openbare werke.

President Cyril Ramaphosa het Woensdag tydens sy repliek ná die staatsrede die hoop uitgespreek dat sulke ‘superstede’ teen die jaar 2030 ‘n verdere 10 miljoen mense sal kan akkommodeer. In dieselfde asem het hy gesê die huidige situasie in stede is nie volhoubaar nie en dat daar reeds ‘n agterstand met die bou van skole, klinieke en hospitale is.

Minister Patricia de Lille het hieroor aangekondig dat die privaatsektor betrokke moet raak by die bou en instandhouding van infrastruktuur vir ‘n tydperk van twintig jaar waarna dit weer aan die staat oorgedra moet word.

Van Staden sê dat, met die huidige toestand van munisipaliteite waar dienslewering totaal weens die swak bestuur en ineenstorting van infrastruktuur gegaan het, kan die VF Plus nie sien hoe die skep van superstede gaan help om hierdie probleem op te los nie.

"Die VF Plus is van mening dat so ‘n stap bestaande stede in ‘n groter gemors sal dompel as wat tans die geval is. Indien die privaatsektor nie in die minister se voorstel gaan inkoop nie, sal hierdie plan van superstede die huidig rampspoedige situasie net vererger.

"Dit is goed om ideale oor die toekoms te hê, maar in ag genome Suid-Afrika se huidige politieke omstandighede, wanbestuur en korrupsie, is dit duidelik dat superstede soos in Amerika nie haalbaar is onder ʼn ANC-regering nie. 

"Die totale ontvolking van die platteland sal spoedig gekeer moet word en die ideale model sal wees dat rasgedrewe wette soos Regstellende Aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging geskrap moet word, misdaad uitgeroei moet word, en Suid-Afrika aantreklik gemaak moet word vir buitelandse beleggers.

"Sodoende sal ekonomiese groei bewerkstellig word en voldoende werksgeleenthede sal regdeur die land geskep word. Die platteland se ekonomieë, werkskepping en groei, kan sodoende gestimuleer word.

"Die VF Plus sal wil sien dat alle bestaande infrastruktuur eers opgegradeer, reg bestuur en beheer word voordat die regering begin droom oor superstede," sê Van Staden.

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!