Regering mis geleentheid om eerstehands met voorste landbouers te praat by Nampo

2016-05-19
Dr Pieter Mulder

Politieke leiers is gretig om die landbougemeenskap van Suid-Afrika te kritiseer en om onsekerheid te skep deur beleidsuitsprake, maar hulle is nie bereid om op grondvlak met die land se kosproduseerders te ontmoet wanneer ʼn geleentheid soos Nampo hom voordoen nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die regering laat sodoende ʼn gulde geleentheid deur sy vingers glip om eerstehands met van die land se voorste landbouers kennis te maak en gesprek te voer.

Volgens dr. Mulder, wat die geleentheid jaarliks bywoon, is hy veral getref deur die goeie bywoning en die positiewe gesindheid van boere nieteenstaande die opdraande stryd wat hulle voer teen die elemente en die regering.

“Suid-Afrika kan trots wees op sy boere wat onder moeilike omstandighede steeds met die beste in die wêreld kan meeding en tans sowat 99% van die land se voedsel produseer.

“Dit onderstreep opnuut die kortsigtigheid van die regering om duisende hektaar goeie landbougrond deur mislukte grondhervormingsprogramme uit produksie te haal.

“Dit lei ongelukkig ook daartoe dat vertroue en goedgesindheid tussen die regering en die landbougemeenskap afgebreek word.

"Die regering sal meer moet doen om landbou te ondersteun, en hier is klein- en ontwikkelende boere ewe belangrik vir lang termyn-politieke stabiliteit. Hulle moet in die belang van voedselsekuriteit gehelp word om kommersiële boere te kan word," sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!