Regering kan nie meer geglo word oor sy erns met aktivisme teen vroue- en kindergeweld nie

2021-12-02
Tammy Breedt

(Debat in parlement: 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders)

Dit is moeilik om na jare van hol beloftes, leë woorde en papierplanne nie sinies te staan teenoor die ANC-regering se erns om daadwerklik op te tree teen geweld teen vroue en kinders nie.

Die VF Plus stem daarom saam met die tema vir vanjaar se veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Die tema is; “Beweeg van bewusmaking na aanspreeklikheid” en na jare van niksdoen, het die tyd vir aanspreeklikheid inderdaad aangebreek.

Vanjaar se 16 dae-veldtog is vandag halfpad en dit is die 22ste keer dat die aktivisme-veldtog gevoer word. Net hierdie jaar is die onderwerp vier keer gedebatteer in die parlement en reeds twaalf keer sedert die aanbreek van die sesde parlement in 2019.

Dit is reeds twintig maande ná die goedkeuring van ʼn R21 miljard-plan om geslagsgeweld teen 2030 uit te roei en beloftes om ’n nasionale raad vir geslagsgeweld te stig.

Tog kan daar met reg gevra word watter tasbare verskil het al dié planne, veldtogte en debatte vir die slagoffers van vroue- en kindermishandeling gebring? Die antwoord is absoluut niks.

Die tyd vir aanspreeklikheid het aangebreek.

Luidens die jongste misdaadstatistiek is verkragting sedert die aanvanklike aanbreek van die veldtog op met 72,4% en seksuele oortredings met 47,1%. Meer as 15 000 sake van gesinsgeweld is by die polisie aangemeld.

Nie die mees progressiewe menseregtewetgewing of die beste geslagsbeskermingsplan sal help sonder daadwerklike optrede in een van die gevaarlikste lande vir vroue om in te woon in die wêreld nie.

Strenger wette om vroue en kinders te beskerm beteken min sonder daadwerklike optrede op grondvlak.

Soos om die slagoffers van geweld die regte ondersteuning in polisiekantore te bied en toe te sien dat meer as net die huidige 12% van polisiekantore toegerus word met die nodige toerusting (rape kits) vir verkragtingslagoffers.

Howe vir geslaggeweld laat ook nog veel te wense oor en onderwerp slagoffers male sonder tal aan verdere trauma.

Dit kan nie so voortgaan nie. Dit is hartseer en frustrerend om steeds byna daagliks te lees van ʼn Uyinene Mrwetyana, Baby Lee Jegels, Tazne van Wyk en ander wat hul lewe op ʼn brutale wyse verloor het terwyl daar net leë woorde en beloftes is om ander soos hulle te beskerm.

Die nuwe tema vir vanjaar se veldtog is daarom reg: Die tyd vir aanspreeklikheid het aangebreek.

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!